Hierdie is twee ou resensies van dr Ben du Toit se boek “God? Geloof in ‘n postmoderne tyd”. Ek het dit geknip en geplak uit Die Kerkpad se argiewe: Die oorspronklike is hier te kry.

Die Kerkpad

“Laat ons wandel in die lig van die Here”
(Jes 2 ; 3 – 5)

Jaargang 5 No 5 September 2001

 

24 Diensdoenende Teoloë

Ons wil ná ernstige gebed en besinning oor dr Ben du Toit se boek, God, Geloof in ‘n postmoderne tyd, ‘n paar feite stel.

Ons waardeer dr Du Toit se poging om die rigting aan te dui hoe die hedendaagse mens met die evangelie bereik kan word. Ons is egter om die volgende redes oortuig dat hy ‘n heeltemal verkeerde weg aandui:

‘n Deeglike studie van die werk van voorstanders van die postmodernisme (J-F Lyotard wat verskeie boeke in hierdie verband geskryf en die term postmodernisme gepopulariseer het, sowel as J Baudrillard, R Rorty en andere) toon onteenseglik dat dit ‘n ideologie is. Ondanks verskille by voorstanders van die postmodernisme, blyk dit dat hulle die volgende in gemeen het: nie een is ‘n Christen nie en hulle verwerp die Christelike geloof, hulle kom aggressief in opstand teen die gedagte dat daar absolute waarhede is – derhalwe verwerp hulle die bybelse waarhede as algemeen geldend – hulle is hiperkrities: alles moet bevraagteken word. Niks is meer seker nie. Om nou die Skrif by hierdie denkraamwerk te probeer aanpas, sal uiteindelik fataal vir die Christelike geloof wees – soos talle voorbeelde uit die geskiedenis bewys.

Dr Du Toit se boek tas die gesag van die Skrif aan. Hierdie is ons ernstigste beswaar teen dr Du Toit se boek. Ons wys op die volgende: ook vir hom is die waarheid relasioneel “altyd te vinde binne die verhouding van en wisselwerking tussen insig, kennis en ervaring. In hierdie proses speel ‘interpretasie’ altyd ‘n bepalende rol. Daar bestaan nie so iets soos objektiewe feite wat absoluut en finaal is nie. Hierdie feit is waar van alle literatuur, ook van die bybelse geskrifte as literatuur” (bl 67).

Hierdie opvatting (dogmatiese stelling?) lei tot die aantasting van die gesag van die Skrif. Ons noem slegs enkele voorbeelde uit sy boek:

Sy stelling dat die bybelse skeppingsverhaal (soos die res van Gen 1 – 11) “duidelik beïnvloed is deur die sienings van die Perse en Babeloniërs” (bl 97) tas God se onfeilbare openbaring wesenlik aan.

“Adam en Eva was nie die eerste mense nie” (bl 77, 108). Hier word die onfeilbaarheid en waarheid van die Bybel onteenseglik verwerp (sien 1 Kor 15: 22; Rom 5: 14). Die betekenis hiervan vir die bybelse leer van verlossing deur Christus as die tweede verbondshoof, is baie duidelik. Al is dit ook waar dat die mensdom tienduisende jare oud is en uit “aapmense of mensape” bestaan het, bewys dit nog nie dat Adam en Eva nie die eerste werklike en volkome mense was nie. God was gedurende die millennia lange skeppingsproses steeds aktief daarby betrokke en niks verhinder dat Hy in ‘n stadium twee volmaakte mense geskape het nie. Du Toit se groot probleem is dat hy die evolusionisme as bewese feit aanvaar: “Die mens se psigiese vermoëns word bepaal deur die biologiese evolusionêre prosesse waardeur die mens as entiteit ontwikkel het” (bl 92). So probeer hy die Skrifgegewe laat pas by ‘n onbewese wetenskapsfilosofie.

Hy verwerp ook die bestaan van die duiwel (bl 17, 21, 127). Hierdie is die mees uitgesproke en blatante verwerping van die waarheid van die Bybel. Selfs die sondeloosheid van Jesus kom in die gedrang. As “die Bose sy oorsprong in die mens self het” (bl 127), is Jesus nie deur die duiwel versoek nie, maar deur die bose in Homself. In die Nuwe Testament word sowat negentig keer van die duiwel en demone as werklikheid gepraat; van satan twee en dertig keer. Natuurlik mag ‘n mens nie die duiwel vir alles wat jy verkeerd doen, blameer nie, maar moet jy ook jou eie verantwoordelikheid vir jou dade aanvaar. Dat daar ‘n persoonlike duiwel is, leer die Bybel egter onteenseglik.

Dr Du Toit se Godsbegrip is erg twyfelagtig. Hy stel voor dat in plaas daarvan om te praat van God (vergelyk die vraagteken in die titel) moet daar van Hom as “die bron van energie” of “die kosmiese siel” gepraat word. Ook Tillich se “God beyond God” vind by hom aanklank omdat God dan nie met menslike voorstellings verwar sal word nie. Wat is Tillich se term anders as dit? Prof FP Theron het in Die Kerkbode (8 Oktober 2000) teen hierdie spekulatiewe wyse van omgaan met die bybelse Godsbegrip gewaarsku. Indien, soos hy voorspel, op hierdie trant voortgegaan word oor byvoorbeeld waarhede soos die twee-nature leer van Christus en die uitverkiesing, sal dit die kerk op die rand van ‘n skeuring bring soos nog nooit voorheen nie.

Ons slotsom is:

Die vraag is hoe ‘n predikant van die NG Kerk wat deur sy lidmaat- en legitimasiebeloftes die onfeilbaarheid van die Skrif in sy geheel en in al sy dele aanvaar het, bewerings soos dié kan maak. Is daar dan geen leertug meer in die kerk nie? (Vergelyk prof Verhoef se brief in Die Kerkbode van 18 Mei).

Die argument dat die boek teologiese gesprek aanmoedig, het seker meriete. Besef die skrywer en uitgewer egter hoeveel verwarring en twyfel dit in die gemoedere van lidmate skep? En dit in ‘n tyd waarin die aanslae van die Bose al feller word!

Ons glo die ring of ander instansies wat oor die broer toesig hou, behoort dit ernstig te oorweeg om ‘n klag van dwaling ten opsigte van die kerkleer, veral wat betref die onfeilbaarheid van die Heilige Skrif, te ondersoek.

 

Dr MM Nieuwoudt

Dit is met droefheid dat ek merk dat eens gewaardeerde NG instansies alweer in die geselskap van dwaalleer is. In die jongste tyd moes ons nie alleen uit die binnekring van die kerk ‘n boek te lewe kry wat ek nooit sou kon glo in die gereformeerde bodem van die NG Kerk sou kon ontstaan nie, maar moes ek ook die gloeiende ophemeling daarvan deur ‘n professor aan die Kweekskool verduur … en hoor dat die boek vereer word met ‘n prys wat vernoem is na die vrome Andrew Murray. Ek glo dat dr Murray nie in hierdie geselskap tuis voel nie en moontlik reeds, spreekwoordelik, in sy graf omgedraai het.

God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, deur dr Ben du Toit is nie ‘n teologiese werk nie. Dis ‘n filosofies-religieuse poging van die postmodernistiese denkrigting om sy vertwyfeling te probeer verkoop ten koste van die behoudende geloof in die Bybel as die ware onfeilbare Woord van God. Dit gaan uit van ‘n naakte evolusieteorie as die bewese wetenskaplike waarheid en aan die Bybel word derderangs en sydelings plek gegee. (Terloops, dis ironies dat juis in die tyd toe dié boek verskyn – wat die wetenskaplikheid van die “oerknal”-skepping wil bewys – ‘n klipwerktuig in Kimberley ontdek word wat volgens die evolusioniste 250 000 jaar oud is. Die oerknalteorie sê egter dat die mens eers 250 000 tot 50 000 jaar gelede ontstaan het en sowat 350 000 jaar gelede begin het om klipwerktuie te maak! Teorieë as “feite” maak maar so!)

Wat is dan die dwaalleer van hierdie boek, wat myns insiens misplaast met die Andrew Murray-prys vereer is?

‘n Paar dinge ontstel:

Volgens die boek is die Bybel nie die unieke en geopenbaarde en onfeilbare Woord van God nie, maar die breinspinsel van die primitiewe voor-wetenskaplike (“premoderne”) mens se denkstruktuur;

Die gereformeerde belydenisskrifte is die “dogmaties-outoritêre” verweer van die kerk met sy geloof in ‘n premoderne openbaringsgeskrif, teen die wetenskaplike “moderne” denke wat ingelui is met Kopernikus se ontdekking in 1514 dat die aarde rond is;

Die huidige “postmoderne” of na-wetenskaplike mens (die mens van ná 1929 toe Hubble met sy oerknal-evolusieteorie na vore gekom het) kan “voorlopig” slegs sy “intellektuele integriteit” behou deur in ‘n paar “kernwaarhede” van Jesus van Nasaret te glo, maar dan ‘n “geloof ” gekondisioneer deur die postmodernistiese interpretasie van die Skrif.

Dit lyk my dié koning het nie klere aan nie!