– persoonlike indrukke van Ds Chris Visser oor Ferdie Mulder se boek: Opgestaan – 30 Desember 2011

 

1. Lees van die boek: OPGESTAAN van Ferdie Mulder

Wat ’n boeiende en spannende boek, wat duidelik en onverskrokke getuig van dit waarvoor die skrywer staan! Ek beveel aan dat die Universiteit van Pretoria vir hom ’n ere-doktersgraad daarvoor gee!

Ek het dit in die feestyd gekoop en kon dit net nie neersit nie. Kersdag was vir my die dag van grootste teleurstelling, toe ek die boek klaar gelees het en terugskouend daaroor moes besin.

Die boek het baie emosies losgemaak. Ek het agterna vir Ferdie op Facebook geskryf:

Ferdie, vandag op Kersdag jou boek “Opgestaan” klaar gelees … was voorwaar ‘n boeiende spanningsverhaal, beter as Deon Meyer op sy beste. Ongelukkig is dit nie fiksie nie! Ek sê voorlopig dankie. Ek haal my klein hoedjie vir jou af. Ek is tans besig om daaroor te besin; sal graag later ‘n mening oor dit alles wil skryf. Skokkend, hartseer, moedeloos, teleurgesteld, kwaad … dis alles emosies waarmee ek moes handel. Tans wil ek net sê: ek is seker die Here het jou deur die spesiale pyn-ervaring geneem met ‘n doel. Hy gaan jou nog daardeur gebruik in Sy Groter Plan. Hy doen dit reeds. Bly net nederig gehoorsaam en beskikbaar vir Hom, Seënwense vir Kersfees!”

Ook my vrou, Sterna, het die boek na my gelees. Sy was ook vasgenael tot die einde … en agterna die volgende woorde gebruik: Verraad in die binnekring! Subtiele aanslag op ons geloof!

2) My vraag aan myself: Is dit nou, 5 jaar later, nog die moeite werd? Het dit nog sin om tyd en energie te bestee om hierop te reageer? Skokkend! Interessant! Maar vergeet daarvan?? Dis lankal verby! Ek of niemand gaan ook iets hieraan kan verander nie …

Nee, het ek besluit. Destyds het ek as gewone predikantjie ook net daarvan kennis geneem, maar niks gedoen nie. Net die berigte in die koerante gelees, gelate aanvaar … gehoop die regte slim ouens sal dit regverdig uitsorteer; geskok gewees oor die finale uitslag; maar gedink … Sjoe, lyk my daar was maar sekere goed daaragter wat mens seker nie alles geweet het nie; Ondersoeke deur Ringe, die Kuratorium en Universiteits-regsmanne … hulle sal mos darem nie almal so verkeerd wees nie. Dis mos ons kerkleiers wat die saak ondersoek; mos goeie, regverdige en eerlike mense, na wie ek nog altyd opgesien het …

Daarom skryf ek nou; wat ookal die gevolge kan wees,, dan het ek ten minste op my gewete gereageer. Jy wat dit lees, moet maar self jou eie saak daaroor uitmaak.

3) Wie is ek nou eintlik? Ag, dis van min belang, maar die wat lees wil mos altyd weet … Dus kortliks opgesom:

  • Na skool, studeer ek as Ingenieur op Stellenbosch Universiteit; Behaal BSc. en BIng (1971) en werk vir 10 jaar as ingenieur by die WNNR. Intussen antwoord ek op die roeping van die Here vir voltydse bediening1 en doen teologiese studies by die NGK se Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria; Gelegitimeer in 1981 en 1982 as leraar bevestig in NGK Sunwardpark, Boksburg.

  • In 1996 verwerf ek ‘n MTh. by die Universiteit van Stellenbosch (Sendingmobilisering). Daarna deur die gemeente uitgestuur as leraar met sendingopdrag met ’n bediening in Sendingmobilisering. Ek kon optree in meer as 300 gemeentes, was betrokke by talle sendelinge en projekte wêreldwyd; en gaan steeds daarmee voort.

  • In 2001-3 was ek deeltydse hulp in NGK Sesmylspruit. In 2004-2006 is ek betrokke as Sendingnavorser by die Hoëveld Sinode, asook deeltyds sendingmobiliseerder by NGK Lindenpark.

  • In 2006 emeriteer ek amptelik, maar gaan steeds voort met Sendingmobilisering; en word ook verteenwoordiger van Petra Kollege vir Kinderbediening.

  • Ek besoek verskeie lande in Afrika, Europa, Suid-Amerika, Midde-Ooste en Verre-Ooste met sendingopdragte.

  • Ek het verskeie boeke oor Sendingmobilisering gepubliseer; Tans, na ’n uitreik na China en Tibet, is ek besig met ’n reisverhaal daaroor.

  • Ek is Redakteur van Koninkryksnuus, ‘n weeklikse Epos-nuusbrief oor sending ens. met meer as 5500 adresse op die databasis.

Tydens my hele bediening was ek uiters lojaal aan die NGK. Ek het altyd geglo dat mens nie oor verskille van kerk verander nie, maar daardeur werk. Ek het al verskeie potensiële kerkverlaters probeer motiveer om liewer te bly en saam ’n verskil te probeer maak. My ingesteldheid daaroor het egter gaandeweg begin verander.

Hierdie boek “Opgestaan” bring veral ’n uiterste laagtepunt in my gemoed daaroor en laat my ernstig twyfel oor my pad met die NGK vorentoe.

4) Teologiese uitgangspunte:

Vir my staan veral twee geloofsbakens vas volgens die Skrif en ons belydenisskrifte:

Eerstens die maagdelike geboorte van Jesus Christus en tweedens, die geloofsoortuiging waaroor Ferdie Mulder sy hoë prys moes betaal, die liggaamlike opstanding van Jesus Christus na sy sterwe.

Vir my vorm hierdie twee geloofsoortuigings die verskil daar in of Christus waarlik God is of maar net nog ’n ‘mannetjie’ in die geskiedenis was wat ’n filosofie ontwikkel het en wat mense (vir ’n tyd) beïndruk het, nog een soos Boeddha of Mohammed.

My betoog hiervoor: Ek gaan geen Bybeltekse gebruik nie, want dit word mos deesdae alles bevraagteken as fundamentalisme. As ek net my gesonde ‘wetenskaplike’ oordeel gebruik, besluit ek …

As Hy nie uit ’n maagd gebore was nie, was hy net so ’n sondige mens soos hulle, en soos ek en jy. Nee, dankie. So ’n verlosser kan nie in my plek sterf en ook niemand red nie.

As hy nie letterlik, histories en fisies die dood oorwin het nie (en dit bewys het deur talle geloofwaardige verskynings daarna nie), kan geen mens met gesonde verstand verklaar hoe ’n klomp papbroek, bang dissipels na sy verskriklike kruisdood – bedoel om enige opstand en mense-idees in die kiem te smoor – daarna soos in Handelinge vertel en deur die geskiedenis bewys, van nuuts af die Nuwe-Testamentiese kerk tot stand kon bring (en dit te midde van verskriklike vervolging nie). Dan kan mens die hele Paulus-gedeelte van die NT opskeur as opgemaakte strooi. Onsin! Maar die ergste van alles, dan is daar maar geen hoop vir ’n lewe na die dood nie (Lees tog maar weer 1Kor 15 as jy vergeet het).

Waarom is daar enigsins nou na 2000 jaar ’n “herïnterpretasie” nodig vir hierdie duidelike Skrifwaarheid, dat dit nie letterlik, histories en fisies was nie – soos die dosente waaroor die klagtes gegaan het in soveel woorde sê – (of sê hulle dit nie, want die oomblik wat hulle in hoeke gedryf word daaroor, dan het hulle allerhande wollerige verduidelikings daarvoor). Dit is na my mening kennelik soos voorspel in 1 Tim 1:3 en 4:1, waar Paulus waarsku teen valse leerstellings en afvalligheid van die eindtyd. Dis ’n openbaring van die toenemende veragting van die waarheid van die Skrif na die ‘meerdere’ insig van sogenaamd wetenskaplike, menslike verstaan en gevolglike twyfel wat daar die afgelope dekade of meer onder sogenaamde teoloë ontwikkel het. Voldoen so iemand nog aan die vereistes van die begrippe: ‘gelowige’ en ‘teoloog’, as dosent vir die NG Kerk?

5) Wat is die waarheid oor die hele ondersoek na klagtes teen dosente en wat “Opgestaan” daaroor berig?

Ek het dit wat in die boek weergegee is, as ’n skitterende weergawe van die hele ondersoek, beleef. Oorweldigend nederig en volwasse, sonder wrok, vertel die skrywer sy belewenis daarvan en ek voel dit aan dat hy baie objektief “eerlik” was daaroor.

Maar … dis dalk alles leuens. Wat is dan die waarheid? Is Ferdie dan nie “oneerlik” bevind (nav ‘n professor se raad om die studente verklaring persgereed te maak) en lewenslank geskors nie? Wel, ek weet nie, maar my gevoel wat ek na die lees van die boek het, is … hier was baie meer “oneerlikheid” gepleeg en dit nie deur Ferdie nie. Dis in elk geval my eerlike persepsie! Ek is gereed as iemand my kan oortuig dis nie so nie.

Waarom is dit my persepsie dat die waarheid nie hier gewen het nie?

Die verhore van die dosente was nie altyd objektief nie. Hoe kan ’n Ring, waar die meeste van die lede jare lange kennisse (en vriende) van so ’n dosent is, enigsins objektief so ’n persoon oor dwaalleer ondersoek? Volgens my behoort in elke geval hierdie ringe self dit te besef het en die ondersoeke eerder na baie meer neutrale ringe oor te gegee het. Wat betref die objektiwiteit oor Julian Muller se ondersoek en die ondersoeklede wat betrokke was, soos berig in “Opgestaan”, (p134-140, Julian Muller) stel dit my as leser bitter teleur. Hoe kan kollegas en oud-studente van ’n dosent hom oor leertug ondersoek? Ek beskou dit as liefdeloos en ‘oneerlik’ om agterna vir Ferdie te sê hy moes voor die tyd gekla het as hy besware oor objektiwiteit gehad het.

Waarom was Prof. König se kommentaar nie toegelaat nie? (p 142, 264). Te warm? Te gevaarlik vir die ondersoek? Hy is dalk die een teoloog in Suid-Afrika wat nog die waarheid hieroor duidelik kan onderskei en vreesloos openbaar.

Die ondersoek ten opsigte van die student was beslis nie objektief nie. Eerstens behoort sy saak as ’n tugondersoek na die kerkraad van sy gemeente (Moreletapark) verwys te gewees het (p 301-302). Waarom nie? Wou die Kuratorium ten volle beheer van die saak in hulle hande hou, want by ’n gemeente-kerkraad sou hulle en hulle dosente-pelle dalk te veel ontbloot geword het?

Waarom was die appèlle by die ondersoeke na die dosente by die Noordelike Sinode nie toegelaat nie? Het die Ring van Pretoria-Oos dit in die wiele gery? (p 164) En by die Oostelike sinode? “Opgestaan” vra: “Kan dit wees dat daar tog, in ten minste van die appèlle, persoonlike belange, kerklike magspeletjies en dergelike dinge ’n rol gespeel het?” (p 266). Dis al verklaring wat ek in my gemoed het nadat ek dit alles gelees het en dit stel my bitter teleur.

Die saak van eerlik of oneerlik (p 170, 190 en bladsy 304-305): As die student beweer die dosente was nie eerlik met die kerk oor wat hulle leer i.v.m. Jesus se opstanding nie (ek persoonlik dink so, want die boek is vol voorbeelde daarvan hoedat hulle telkens wegskram van eenvoudige antwoorde daaroor, maar dit verdoesel met slim wollerige geleerdheid-stellings bv. p 183-189) en as dit dan nou nie so bevind word nie, dan was die stellings van die student vals en hy dus skuldig aan oneerlikheid (en die dosente dan “onskuldig” aan alle leerdwalinge); Is die student dan so skuldig, so oneerlik dat hy nou permanent geskors moet word? Sjoe, noem die ondersoekkommissie van die kerk en universiteit hierdie hele ding ’n “eerlike” regsproses? Ek is maar baie dom, maar vind dit alles baie vreemd! Ek wil huil daaroor!

Opgestaan” vra op p 191: Waarom het die kommissie die amptelike standpunt van die NG Kerk oor die Nuwe Hervorming in 2003 waarin die “letterlike”, “liggaamlike” en “historiese” opstanding van Jesus bely word ens. geïgnoreer (ook p 269). Ek vra ook … waarom? Waarom vra die breë kerk nie pertinent die vraag nie? Te bang? Is die kerkleiers reeds verby daardie punt om nie meer erns daarmee te maak nie (p 277)? Dan is dit wat my betref baie laat in die NG Kerk!

Meer nog, is die interpretasie wat die Advokaat Du Toit in sy finale betoog van die NG Kerk se belydenisskrifte gemaak het (p 189) “…daar hoef slegs in die opstanding geglo te word – die geloof in die wyse van die opstanding is nie voorgeskryf nie…” waarvolgens die student skuldig bevind is (p190) … is dit hoe die NG Kerk dit vandag amptelik sien? Ek kan nie so daarmee vrede hê nie!

Die Kuratorium-verhoor: is die groot klem op die tegniese veranderinge wat Ferdie in die klagte-dokument aangebring het, wysiging van font-groottes en ander kosmetiese wysigings (p 307)… was dit ’n grappie in die proses, of was hulle ernstig? Ja, nee, Pilatus, kruisig hom!

Is die vertelling van Ferdie (p 297, 301) oor die Kuratorium prokureur se aanbod dat as hy al die dwaalleer-klagtes teen die dosente sou laat vaar, hulle ‘moontlik’ al hulle dissiplinêre aksies ook teen hom sou laat vaar… erge afdreiging? Is dit waaragtig waar? Sou alles dan net gewoon soos tevore aangegaan het?

6) Professor Julian Muller: Eerlike Gelowige Teoloog?

In “Opgestaan” word genoem dat Prof. Julian Muller verreweg die mees prominente persoon in die ondersoeke was (p 131). Ek het nie tyd en kennis om na al die betrokke dosente te verwys nie, maar wil graag oor hom dus ’n verdere aspek aanraak.

Hy het onlangs ’n nuwe boek gepubliseer: “Om te mag twyfel” (wat natuurlik soos gewoonlik baie aandag in nuusblaaie soos Beeld gekry het).2

Ek het gevoel ek moet daarop reageer en het in my e-nuusbrief Koninkryksnuus ’n berig daaroor geskryf (wat ek ook aan Prof. Julian gestuur het).3

Hy skryf … hy distansieer hom van die konsep “geloofsekerheid”. “Ek het met verloop van tyd skepties geword oor die konsep ‘geloofsekerheid’”.

Dan word in die artikel gesê dat hy hierdie standpunt inneem teenoor die “kampioene van geloof”… hy skaar hom eerder by die “ongelowige gelowiges”. Aai! Dit klink so mooi ‘nederig’, selfs meer ‘heilig’ as die ‘kampioene van geloof’ – wat durf bely dat hulle ‘seker’ is van hulle geloof.

Natuurlik kan (en mag?) ’n mens twyfel en dit is nie sonde om te twyfel nie, maar Jesus roep die twyfelende, ongelowige Thomas op om op te hou twyfel en te glo! Dis die boodskap van die Bybel. En hy wat dit glo, is en kan en sal dan ‘seker’ wees, want Jesus is seker! Dis geloofsekerheid! Nie ’n eienskap in die een wat glo nie, maar geanker in Hom, Jesus Christus, die opgestane Here! Hoe kan mens hulle wat so bely, verdag maak en smalend daarvan praat?

Verder voel ek… Geen gelowige wat twyfel kan aanhou daarmee nie – die twee konsepte gaan net nie saam nie. Hy wat aanhou twyfel, hy kies vir ongeloof! Hy wat kies om die gedagte te omarm – “ongelowige gelowige” – en lyk my selfs ’n “teologie” daaroor probeer uitwerk en verdedig (dis hoe ek sy betoog in die artikel verstaan), hy kies om nie meer te wil glo nie en dit verskonend selfs goed te praat.

Ja, ek weet die professor sal nou weer verduidelik … dis nie eintlik hoe hy bedoel nie. Ek verstaan dit verkeerd. Hy het mos in die artikel gesê … Nee, hy wil nie twyfel saai of dit aanmoedig nie. Inteendeel, hy wil eerder die ruimte – die moontlikheid – vir vertwyfeling erken en ontgin.

Ek voel eerder ’n kerkleier behoort in ons tyd sy ruimte te gebruik om die saak van geloof te help ontgin. Ek het aan Prof. Julian geskryf: Wat van eerder ’n nuwe boek: Om te mag glo! ’n Boek wat met hartsoortuiging praat en met praktiese lewe demonstreer wat geloofsekerheid is.

Daar was baie respons op my skrywe. Een daarvan het my van onchristelike hooghartigheid beskuldig…

Ek dink jou persoonlike aanval op prof Julian is ongevraagd, swak smaak, oneties en daarom dan ook onchristelik. Onthou: jy stuur ‘n afkeurende en afbrekende boodskap na al jou lesers sonder dat hy homself enigsins teen jou verdagmakery kan verweer.  Ek dink jy is hom ‘n verskoning verskuldig. Terloops, ek het die boek gelees en dit opbouend vir my geloof en inspirerend gevind. Miskien, as jy oop genoeg is daarvoor, kan die Heilige Gees jou ook met die lees daarvan tot nuwe insig bring, jou hart sagmaak en jou gees van hooghartigheid verander.”

Ek en baie ander deel die bekommernis van Slabbert Le Cornu oor die boek soos hy dit skryf op sy Blog:4 “Ja, dit is tragies dat iemand so dogmaties seker kan wees van sy ongeloof, maar wat nog erger is, is dat hy na dese nog steeds deel is van die NG Kerk, en toegelaat word om slange en klippe vir toekomstige predikers te voed, terwyl hul vir vis en brood vra (Matt.7:9,10)”.

Ek stem saam met hom as hy skryf “In die NG kerke se belydenis word daar openlik ‘n ‘evangeliese geloofsekerheid’ volgens die Heilige Skrif bely, teenoor ‘ongelowige gelowig’ wees, of die roem in onsekerheid.”

Een kommentaar daarop was veelseggend:

Goed gestel, Slabbert. Een van die uitstaande kenmerke van die aanhangers van postmodernisme (‘n goeie vriendin van my praat van postmortemiste), is die verheerliking van Nie-weet-kunde. Die uitspreek van onsekerhede, wegskram van wat die waarheid is en ontkenning, word tot die oulikste eierdansies verfyn, soos mens dikwels in Julian Müller en enersdenkendes se skrywes raaklees. Die enigste ding wat hulle van harte weet, is dat hulle nie weet nie …. Volgens hulle is Christene arrogant om te sing : “Ek weet verseker, dat Jesus leef!”

My vraag is… As ‘n gemeente ‘n voornemende katkisant moet beoordeel oor sy of haar gereedheid vir belydenisaflegging en die antwoord … “nee, ek twyfel nog oor my geloof” (mens kan mos nie so voorbarig wees om seker te wees nie?)… kan so ‘n persoon toegelaat word vir belydenisaflegging? Wat dan van ‘n predikant… of ‘n professor?

Ek kan regtig nie glo dat iemand wat so ’n geskiedenis van twyfelagtige geloofsuitsprake het, bv. soos hierbo, maar veral soos in “Opgestaan” uitgelig en ondersoek is (en na my mening net op ‘tegniese’ gronde nie ontbloot was nie, omdat die arme student as ‘oneerlik’ bevind en geskors is, maar sy klagtes oor die dosent nooit regtig eerlik beoordeel was nie), hoedat hy steeds maar toegelaat word om studente vir die NGK te mag oplei. Al hoe ek dit kan verstaan, is dat daar nie ‘eerlikheid’ in die hele proses was en steeds is nie.

6) ’n Paar laaste opmerkings en vrae oor “Opgestaan”:

My persepsie is dat die Kuratorium die studente wat gekla het nooit ernstig opgeneem het nie en geen kans gegee het om eerlik na hulle te luister nie (ek was ook ’n student daar; ek onthou hoe ek destyds ook maar ervaar het hoe belangrik die ouens daarbo dink hulle is).

Toe die bom bars, het hulle alles gedoen om hulle “goeie?” naam en die dosente te beskerm, ongeag. Hulle het waarlik tot uiterste toe gegaan met hulle magspeletjies: Afdreig van klaers om terug te trek; ’n student wat eerlik kom kla, ten alle koste “oneerlik” te bevind en dan daarmee al die klagtes teen dosente eintlik maar onder die mat in te vee en die student te skors (ter wille van die vrede?).

Watter tugstappe is teen die predikant in diens van die Kuratorium (Dr. Flip du Toit) gemaak omdat hy baie duidelik nagelaat het om sy werk te doen, deur die klagtes van die studente oor ’n lang tyd te ignoreer en amptelik aan te spreek (p308-309); (dalk was dit uiteindelik die grootste enkele rede dat die ‘klein’ probleempie so ’n uiters ‘groot’ verleentheid vir almal geword het).

Was die boelie taktiek om studente wat gekla het op bedenklike wyses te dreig en te dwing om hulle name van die verklaring terug te trek (hoofstuk 5) alles net op sy inisiatief of met wie se opdrag en medewete is dit gedoen? Is dit maar die styl van hoe die kuratorium probleme met studente hanteer?

7) Ten slotte, dink ek dankbaar terug aan die meeste van my dosente van 1978-1981

Professore Frikkie Botha, Andre du Toit, Johan Heyns, Prinsloo en Van Zyl; Nooit het ek enige twyfel-uitsprake oor Jesus, sy maagdelike geboorte of sy liggaamlike opstanding van enige van hulle gehoor nie; Inteendeel … hoeveel vaste rotse het hulle my nie geleer om op te staan nie, liefde vir die Skrif, wat my met geloofsmoed gevul het om my bedieningspad as predikant enduit te loop… Dankie! Ek eer julle!

Christus het waarlik opgestaan!

Chris Visser VDM

1 Meer oor my roepingsgetuienis by http://www.givengain.com/cause/275/posts/104986/

 

2 Sien ook die gesprek wat met Julian Müller gevoer is oor sy nuwe boek, en in die By-Beeld van 2011-04-23 gepubliseer is onder die titel: “Ongelowige Thomas ? Juis nie …”