Die besluit van die Algemene Sinode van 2011 dat daar ruimte in die NG kerk is vir mense wat die bestaan van die duiwel ontken is ongeldig.
Ek haal paragraaf 7 van die Sinode se besluit oor die bediening van bevryding hier aan:
7 Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ‘n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
1. Die paragraaf skep ruimte vir leraars om dwaalleer te verkondig in die NG Kerk
2. Die paragraaf weerspreek die kerkorde van die NG Kerk ten opsigte van die hantering van dwaalleer in die kerk.
3. Die paragraaf weerspreek die belydenisskrifte van die NG Kerk ten opsigte van die hantering van dwaalleer in die kerk.
4. Die paragraaf weerspreek die Bybel ten opsigte van die hantering van dwaalleer in die kerk.
5. Die leer dat die duiwel nie bestaan nie is ‘n dwaalleer omdat dit in stryd is met die belydenisskrifte van die kerk.
6. Die leer dat die duiwel nie bestaan nie is ‘n dwaalleer omdat dit in stryd is met die Bybel.
7. Omdat die besluit in stryd met die kerkorde, die belydenisskrifte en die Bybel is, is die Algemene Sinode nie by magte om so ‘n besluit te neem nie.
1. Die paragraaf skep ruimte vir leraars om dwaalleer te verkondig in die NG Kerk
1. Dr Ben du Toit het voor die Algemene Sinode 2011 opgetree as sameroeper van die komissie vir Leer en Aktuele Sake.
2. Die kommissie vir Leer an Aktuele Sake het die konsepresolusie oor die bediening van bevryding soos aanvaar deur die Algemene Sinode opgestel. Ons moet dus aanneem dat Dr du Toit ‘n sleutelrol in die opstel van die konsepresolusie gespeel het.
3. Dr du Toit is op 12/10/2011 deur BEELD aangehaal as volg: “Daarteenoor het dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus egter absoluut. Hy het gepleit dat daar ook vir mense soos hy ruimte geskep sal word.”
4. Dit is dus duidelik uit die konteks van Dr du Toit se pleidooi in die pers en sy betrokkenheid by die opstel van die konsepresolusie dat die nie net gaan oor lidmate wat die bestaan van die duiwel ontken nie maar ook oor mense soos hy – gelegitimeerde leraars in die kerk wat selfs op die moderamen mag dien.
5. Dit is dus duidelik dat die doel van paragraaf 7 is om ruimte te skep vir leraars wat die bestaan van die duiwel ontken.
2. Die paragraaf weerspreek die kerkorde van die NG Kerk ten opsigte van die hantering van dwaalleer in die kerk.
Die kerkorde van die NG Kerk is baie duidelik dat dwaalleer nie in die kerk toegelaat mag word nie. Hoofstuk 14: Reglement vir die Reëling van die Opleiding en Legitimasie van Evangeliedienaars, paragraaf 7 verwys:
PLEGTIGE LEGITIMASIE-VERKLARING VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK
Ek, die ondergetekende, …. oortuig van my roeping deur die Here en toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, verklaar hiermee voor die Here
1. dat ek glo dat die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerrels, ooreenkom met die Woord van God;
2. dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;
3. dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die Kerk te weer;
Dit is duidelik dat om te besluit dat daar “ruimte” is vir persone wat dwaalleer verkondig teenstrydig is met die belofte om dwaling uit die Kerk te weer
3. Die paragraaf weerspreek die belydenisskrifte van die NG Kerk ten opsigte van die hantering van dwaalleer in die kerk.
1. Die Heidelbergse kategismus:
85 Vraag: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog ‘n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesword. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys
2. Die Nederlands Geloofsbelydenis.
Artikel 29: Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.
Artikel 30: Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom hou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word.
4. Die paragraaf weerspreek die Bybel ten opsigte van die hantering van dwaalleer in die kerk.
Mat. 7:15: Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.”
Hand.20:28 Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters die kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29 Ek weet dat daar na my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30 Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31 Wees waaksaam.
1 Tim. 1:3 Soos by my vertrek na Masedonitoe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied.
2 Pet.2:1 Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort. 2 Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. 3 In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar.
5. Die leer dat die duiwel nie bestaan nie is ‘n dwaalleer omdat dit in stryd is met die belydenisskrifte van die kerk.
Om aan te toon dat die belydenisskrifte en die Bybel die duiwel as ‘n persoon beskryf moet ons eers die kenmerke van ‘n persoon beskryf. Die volgende word algemeen as kenmerke van ‘n persoon beskryf:
1. Kognisie: Die vermoë om waar te neem, inligting te interpreteer, te kan beredeneer, te beplan en tot ‘n gevolgtrekking te kom. (Emosies is voorheen apart beskou, deesdae word dit as deel van kognisie beskou.)
2. Konasie: Die besit van ‘n vrye wil, dryf en die vermoë om aksies te kan inisieër.
3. Die vermoë om morele keuses te maak. ‘n Mensvreter leeu is nie ‘n moordenaar nie. Omdat dit nie ‘n persoon is nie het dit nie die vermoë om morele keuses te maak nie. Net so is ‘n stukkende oorlosie nie ‘n leuenaar nie, omdat dit ten spyte van die feit dat dit vals inligting verskaf, nie ‘n persoon is nie.
1. Die Heidelbergse Kategismus verwys na die duiwel op maniere wat mens slegs kan verstaan indien die duiwel ‘n persoon is.
Vraag 1: die heerskappy van die duiwel
Vraag 9: die aanhitsing van die duiwel
Vraag 34: die heerskappy van die duiwel
Vraag 112: die werke van die duiwel
Vraag 123: die werke van die duiwel
Die verwysings na die duiwel se “heerskappy”, “aanhitsing” en “werke” veronderstel intellek, wil en die vermoë om aksies te inisieer. (Kognisie en konasie) Aangesien die duiwel se “werke” morele waarde het in die konteks van die Kategismus is die afleiding dus dat die duiwel ‘n morele wese is.
2. Die Nederlandse Geloofsbelydenis verduidelik dat die duiwel en die demone gevalle engele is.
Artikel12
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk ook op elke lidmaat om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
“Eie wese, gestalte en voorkoms”: Dit weerspreek die stelling dat die bose slegs ‘n mag of ‘n toestand is absoluut.
“Take”, “dien”, “moordenaars”: Dit impliseer duidelik kognisie en konasie.
“Goed geskep”, “vyande”, “moordenaars”, “hulle eie boosheid”, “bedrieëry” : Dit impliseer die vermoë om morele besluite te neem.
“Met alle mag”: Dit impliseer konasie.
“Verwag”: Dit impliseer kognisie.
Let asb op dat die Algemene Sinode van 2011 spesifiek vir die dwaling van die Sadduseërs ruimte gegee het in die NG Kerk.
6. Die leer dat die duiwel nie bestaan nie is ‘n dwaalleer omdat dit in stryd is met die Bybel.
Hierdie beskrywing van wat die Bybel leer ten opsigte van die duiwel is slegs ‘n inleiding. Daar is nog baie ander bewyse uit die Bybel wat nie aangeraak word nie. Die onderstaande is egter genoeg om die punt te bewys.
Joh.8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.
Jesus beweer die duiwel het ‘n wil. (Konasie) Hy beweer die duiwel is ‘n moordenaar, en ‘n leuenaar. (Kognisie, konasie en moraliteit). Die duiwel praat. (Kognisie en konasie).
Dit is duidelik dat Jesus hier beweer dat die duiwel ‘n persoon is.
Jesus is in die woestyn deur die duiwel konfronteer. Die afleiding dat die duiwel ‘n persoon is, is die enigste gevolgtrekking wat logies en eerlik uit die beskrywing van die episode gemaak kan word.
Indien die duiwel nie ‘n persoon is nie, het dit die volgende implikasies:
1. Jesus het geen spesiale kennis gehad buite sy konteks as mens en sy historiese konteks nie.
2. Jesus het dus gelieg deur voor te gee dat Hy kennis gehad het waaroor hy nie beskik het nie.
3. Alternatiewelik was Jesus onder die waan dat hy kennis gehad het wat hy nie gehad het nie, en was dus psigoties.
4. Dit kan dit beteken die Bybel is nie regtig God se Woord nie, en wat mense hier oor Jesus se woorde en die duiwel geskryf het, is onwaar.
Afleidings 2 en 3 is verfoeilike godslastering. Afleiding 4 val die openbaringsgrondslag van die Christelike godsdiens aan. Al drie moontlike afleidings sou ‘n persoon wat dit glo buite die grense van die Christelike godsdiens plaas.
Dr Ben du Toit verklaar op bl 127 van sy boek “God? Geloof in ‘n Moderne Tyd” dat die boosheid in die mens self geleë is. Die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word is dat Jesus deur die boosheid binne in Sy eie wese versoek is. Dit is dus ‘n blatante ontkenning van die leer dat Jesus sondeloos was.
Johannes verklaar ondubbelsinnig dat Jesus gekom het om die werk van die duiwel tot niet te maak.
1 Joh. 3:8 …wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.
Indien die duiwel nie bestaan nie het Jesus dus verniet aarde toe gekom en verniet gesterf.
Die ontkenning van die bestaan van die duiwel is dus in die lig van 1 Joh. 3:8 ‘n algehele ontkenning van die Evangelie van Jesus se versoeningsdood aan die kruis.
As iemand die bestaan van die duiwel ontken plaas dit hom dus buite die grense van die Christelike godsdiens.
7. Omdat die besluit in stryd met die kerkorde, die belydenisskrifte en die Bybel is, is die Algemene Sinode nie by magte om so ‘n besluit te neem nie.
Die Kerkorde van die NG Kerk verklaar ondubbelsinnig:
Artikel 1
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618- 1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.
Die volgende is ‘n uitreksel van ‘n brief van ‘n gesiene aktuarius van die NG Kerk wat onder die voorwaarde van anonimiteit my van kerkregtelike raad verskaf het. Ek moet hier noem dat die persoon homself glad nie met my standpunt vereenselwig nie. In teendeel! Dit is egter belangrik om te let op die feit dat hy bevestig dat geen kerkvergadering die belydenisskrifte of die Bybel mag teengaan nie.
“Die kerk se belydenisskrifte word in die Kerkorde vermeld om te sê waarop die NG Kerk gegrond is. Besluite van kerkvergaderinge moet aan die Bybel en die Belydenisskrifte getrou bly. Alvorens dit nie bewys is dat ‘n besluit met die Bybel en Belydenis in stryd is nie, moet daar aanvaar word dat daar binne die bepaling van die Kerkorde gehandel is. Wie beweer, moet bewys.”
Geen kerkvergadering van die NG Kerk kan dus wettiglik ‘n besluit neem wat strydig is met die kerkorde, die belydenisskrifte van die kerk of die Bybel nie.
Ek dink hier is genoeg bewys dat die besluit van die sinode ongeldig is.
Wynand Louw
Gideon Aggenbag said:
Wynand, jy het die saak uiters duidelik gestel. Ek stem hartlik met jou saam. Dit is waarlik tyd dat die NG Kerk se leierskorps wakker skrik, want blykbaar (en in my ondervinding) luister hulle nie na die gewone lidmaat en preikant nie – t.s.v. die gewaande “Seisoen van luister”. Mens vra jouself: “Watter doel dien die luister?”
Ons kan net hoop dat die leierskorps nie al almal in die wurggreep van die oënskynlike magsblok is nie. Ek het só gehoop ons gaan ook van die leidende kerkfigure hoor hoe hulle hierdie dwaalleringe hanteer, maar daar heers ‘n doodse stilte. Vreesbevange?!
Somerset Morkel said:
Ek stem volmondig saam met bg. Redenasies OMDAT dit SKRIFTUURLIK IS. Die tyd kom nader vir die ware kinders van God om hierdie kerk vaarwel toe te roep omdat sy n vals kerk geword het. Die hoer van Babilon neem al meer in haar gestalte aan. Ek ontken nie dat daar nog kosbare kinders vd Here wat in die waarheid wandel in die NGK is nie. Maar die tyd vir draadsittery, verskonings, lamlendigheid en apatiese deelname en dryf-saam-met-die-stroom, is verby. As die NGK moet skeur, skeur hom! Hoe kan mens langer gemeenskap met duisternis he? Die nuwe leierskap is nie leiers nie, maar merendeels MISLEIERS. Gebruik hierdie jaar 2012 om ondersoek te doen na die geloofs-ontrou wat in die NGK ingekom het en nou welig tier. Besluit dan om n getuienis uit te bring.
Die Sinode is nie God nie, maar tydens die afgelope Alg Sinode het die Sinode hom bo God verhef deur God se eenduidige Woord te verwerp en sy eie verwaandheid voorop te stel. (Dit is presies wat die Duiwel gedoen het en waarom hy uit die hemel gewerp is). Die NGK het Jesus se getuienis asook die Apostels en ander Bybelskrywers skn, verwerp en gedegradeer, en dit ONGELDIG verklaar. Watter arrogante hoogmoed is nie daarin vervat nie? Elke Sinodeganger wat ten gunste van die kompromie gestem het, is mede-verantwoordelik. Hulle moes liewer demonstratief uitgeloop het as om te stem ten gunste daarvan – ruggraatlose kerkpolitici!
hierstaanek said:
Hallo Somerset
Ek glo nie dit is nodig om die kerk te skeur nie. Ek glo die oorgrote meerderheid lidmate glo nog in die Bybel en die Belydenisskrifte.
Ek sou saamstem dat die emergents in ons kerk wat weier om tot bekering te kom moet afsplinter (Daar is te min van hulle om van ‘n skeuring te praat) – en miskien aansluit by Abel Pienaar se zen-gnostiese ashram.
Somerset Morkel said:
Wynand: Ek respekteer jou standpunt oor kerkskeuring. Dit is iets wat mens nie aan wil dink nie. Die geskiedenis van die gereformeerde kerke in SA het gewys watter gevolge dit kan inhou. Vorige kerkskeurings het nie oor dwaalleer gegaan en was grootliks gebaseer op persoonlikhede en politieke sienswyses. Die skeurings het om die verkeerde redes plaasgevind. Ons is nie nou daar nie. Ons is nou by blatante dwaling, soos jou dokument hierbo uitwys. Ons is nou by Luther en Calvyn-hulle. Toenemend kom ons nou by n situasie van ongeloof en geloof wat in dieselfde juk trek. Dit mag nie – dis ook n bybelse opdrag. Mens moenie skeuring aktief najaag nie, maar dit gaan kom. As die tyd daar is, moet ons gereed wees. Anders as jy, dink ek nie die meerderheid lidmate is bybelgetrou nie. Inteendeel. Oor jare is hulle blootgestel aan ‘neutraliteitsprediking’ en hulle is ryp vir hierdie afgelope sinode se idelogie. Die meeste van hulle is ‘goeie kerkmense’ en dis al. God sal diesulkes uit Sy mond spuug. Of die meerderheid die Here ken, betwyfel ek. Tragies.
Alwyn Du Plessis said:
So interessant om al die argumente te lees. Na ek alles gelees het en weer gelees het moet ek vra: was al die sinode afgevaardigdes dan regtig verkeerd en is die skrywer dan so wys dat hy noodwendig korrek moet wees.
Ek aanvaar die sinode se besluite en respekteer die ander standpunte al is hulle nou ook in die minderheid.
hierstaanek said:
Hallo Alwyn
Dankie vir jou bydrae.
Was die sinode se afgevaardigdes verkeerd? Ek glo – dit is my opinie – dat hulle (opsetlik?) mislei is. Paragraaf 7 van die besluit is aangeplak aan ‘n lang besluit oor iets totaal anders: Die bediening van bevryding. Ek glo die meeste mense wat vir die hele resolusie gestem het was nie eers bewus van die fynskrif en/of die implikasie daarvan nie.
Ek wil graag van jou hoor, waarom ondersteun jy die Sinode se besluit? Kan jy asseblief rasioneel, en met verwysings na die Bybel en die belydenisskrifte verduidelik waarom jy tot die gevolgtrekking gekom het?
Ek het nie alle wysheid in pag nie. Dus: Indien ek verkeerd bewys kan word, op logiese wyse met verwysing na die skrif en die belydenisskrifte, sal ek onmiddelik my verklaring dat die sindodebeluit ongeldig is terugtrek. (Ek het al voorheen ‘n pos op hierstaanek verwyder nadat ek attent gemaak is op ‘n fout)
Kom ons debatteer die saak!
Wynand
WILLIE DU PLESSIS said:
Dit is geen geheim meer dat die sinode deur ‘n baie klein minderheid vrydenkers gekaap was, sonder dat die meeste van die aanwesiges besef het wat aangaan. Ek het baie, en as ek sê baie, dan bedoel ek letterlik baie familie en vriende wat lidmate van die NG Kerk is. Nie ‘n enkele een van hulle ontken die bestaan van die duiwel en hel nie, glo nie in die maagdelike geboorte van ons Here Jesus Christus, Sy opstanding uit die graf, hemelvaart en wederkoms nie. Hulle aanvaar die Bybel as die Woord van God, glo aan die honderde , of duisende, wonderwerke wat in die Bybel beskryf word, verkondig nie dat die Bybel uit talryke opgetekende mites bestaan nie, ens., ens. Dr Albert Cruywagen het dit nou sy taak gemaak om dit by die lidmate van NG Kerk in te prent dat meerderheid van die afgevaardigdes na die sinode nou die vrydenkers se teologie in stemming aanvaar het, asook dat sy persoonlike standpunte in ooreenstemming met die teologie van die NG Kerk is.
Hierdie valse dwaalleer moet beveg word.
WILLIE DU PLESSIS
hierstaanek said:
Willie
Ek glo jy is heeltemal reg. Die woord ‘vrydenkers” is egter heeltemal ontoepaslik hier. Hierdie mense is slawe van die leuen. Ons weet dat slegs die Waarheid mens vry maak…
gerhardbothmahard bothma said:
Ek kan verstaan dat jy vanuit jou paradigma ‘n probleem met die besluit het, Wynand.
Jy is egter verkeerd in jou konklusie. En jou verdagmakery van die NG Kerk is ongegrond.
hierstaanek said:
Hallo Gerhard
Ek waardeer jou inset.
Dit is belangrik dat ons praat van paradigmas.
Die paradigma van die Bybel en die belydenisskrifte is dat daar so iets soos Absolute Waarheid is. Kyk maar na die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dortse leerreels. Die formaat is deurgaans: “Ons glo die volgende Waarheid, en ons verwerp die volgende Leuen.” As daar nie absolute waarheid is nie is daar nie onderskeid tussen waarheid en leuen nie.
Jy het met jou legitimasie eed belowe om hierdie paradigma van die Bybel en die belydenisskrifte te verkondig en te beskerm.
Jy kan dus nie nou, soos ‘n wafferse postmodernis, beweer dat wat vir my paradigma geld nie vir joune geld nie. Soos ek sê, jy het jou met jou legitimasie eed verbind tot die paradigma van Absolute Waarheid. (Lees maar my artikel oor John Piper se opinie oor relatiwisme.)
As kind het ek so geredeneer: “Jy is verkeerd!” en as ek dan gevra word waarom, het ek geantwoord, “Sommer, want jy is!”
Gerhard, ons is volwassenes. Die ewigheid van derduisende mense is op die spel. Jy kan nie maar beweer “Jy is verkeerd” sonder om te substansieer nie. Dus daag ek jou uit om die volgende te doen.
–Beskryf jou paradigma, en hoe dit van myne, soos ek dit hierbo verduidelik het verskil.
–Verduideik dan hoekom jou paradigma met die Bybel en die belydenisskrifte verenigbaar sou wees.
–Verduidelik dan hoekom jy sê ek is verkeerd. Ons is volwassenes, nie kinders nie.
Daar is net een keuse: Bewys ek is verkeerd of ondersteun die beswaar teen die sinode se besluit.
O, ja, ek dink vanoggend daar is ‘n alternatief: As jy nie een van die bogenoemde kan doen nie is die enigste eerbare uitweg dat jy uit jou amp in die NG kerk bedank.
Pingback: Ope brief aan Prof Nelus Niemandt, gepos op Facebook 12/02/2012 « hier staan ek
Pingback: Leraars in die NG Kerk wat die belydenisskrifte verwerp pleeg bedrog! « hier staan ek
Pingback: Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16/03/2012 « hier staan ek
Pingback: Tugondersoek vir leerdwaling teen Dr Ben du Toit « hier staan ek
Ben Biggs said:
Handelinge2,38 En Petrus sé vir hulle: Bekeer julle,(kom tot geloof in Christus) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus( waarom in die Naam van Jesus?) tot vergewing van sondes,en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.