Die ontkenning van Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood – ‘n Teologiese agtergrond.

Deur Ferdie Mulder

Referaat gelewer by die VCHO 15 Augustus 2007

Die volledige artikel met voetnotas en bronnelys is hier te vinde: Laai dit af, die voetnotas is net so insiggewend as die artikel self!

1. Inleiding

‘n Paar weke voordat my oupa in Despatch se Checkers aan ‘n hartaanval beswyk het, het hy die volgende oor die telefoon aan my ma gesê:

Elreza, as hulle jou bel en sê Frikkie Kelber is dood, dan moet jy hulle nie glo nie: want dan leef ek eers!

Byna 15 jaar later, net nadat ek ‘n Ou Testament vraestel by Tukkies voltooi het, het ek opgestaan en by die deur van die eksamenlokaal met prof. Jurie le Roux, my dosent gesels. Hy vra my toe hoe dit gegaan het met die vraestel. Ek het met groot opgewondenheid gesê dat ek dit baie geniet het. 3 Dit was heel duidelik dat hy onkant gevang was deur my antwoord. Vir byna viér jaar verskil ek so sterk van hom in die klas, en nou sê ek dat ek die vraestel baie geniet het. Voordat my woorde nog koud was maak prof. Le Roux toe die volgende stelling aan my:

“Vir die eerste eeuse Christene het Jesus opgestaan omdat dit deel van hul wêreldbeeld was, vandag kan ons dit nie meer so verstaan nie”. 4

Wat maak dat ‘n Bybelwetenskaplike dit kan waag om te sê: Jesus se liggaam is verskeur deur wilde honde? Of, Jesus se liggaam het ontbind in ‘n graf ?5 Ek weet persoonlik van geen teoloog wat sy akademiese loopbaan afgeskop het met so ‘n stelling nie – dit is waarskynlik eerder die eindresultaat van baie jare se onkritiese aanvaarding van sekere filosofiese en hermeneutiese stromings dat so ‘n ongelowige standpunt ontwikkel.

Om hierdie tipe “ontwikkeling’ in denke te illustreer haal ek vir u aan uit ‘n e-pos van ‘n NG teoloog met twee doktorsgrade, wat die afgelope paar jaar ten nouste saamgewerk het met teoloë aan die Universiteit van Pretoria:

“Hulle konklusies .. is .. die logiese konklusie van wat hulle eie studies, leeswerk, navorsing ens hulle by uitgebring het … hulle het net konsekwent die implikasies van hul kennis uitgespel …Ook hulle was op ‘n kol ’geshatter’ deur die verlies van die geloof van hul eie kinderdae, al lyk dit nou of hulle nie daaroor gepla is nie.” 7

Vervolgens bespreek ek ‘n paar van die onderliggende vertrekpunte wat implisiet elangrik is wanneer oor Jesus se opstanding gepraat  word.

2. Absolute waarhede en betroubare feite

Kan daar nog in die 21ste eeu van absolute waarhede gepraat word? Bestaan daar nog iets soos betroubare feite? Vir ware gelowiges is daar tot vandag toe nie regtig debat hieroor nie – daar word gewoon in die geloof aanvaar dat gebeure soos Jesus se opstanding histories gebeur het en ‘n kernwaarheid van die Christelike geloof is. 8 Een mooi voorbeeld uit die Bybel wat só as ‘n betroubare feit
aan ons voorgehou word is Handelinge 2:32 en 36:

”God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies .. Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak.”

Die Griekse woord wat vertaal word met “vas en seker” is ασφαλως (asphaloos). Die vertaal moontlikhede sluit die volgende woorde in: vastigheid; sekerheid; vas;definitief; sonder enige twyfel (Arndt 1996:118-119). Vir ware gelowiges bevat die Bybel dus tot vandag toe die waarheid en letterlike geskiedkundige gebeure. 9

Dit is egter veral sedert die 18de eeu, met die opkoms van die historiese bewussyn wat die letterlike historiese verstaan van Jesus se lewe en werk in sekere kringe onder geweldige druk gekom het. In lyn met hierdie paradigma het Gotthold E. Lessing byvoorbeeld beweer dat daar ‘n groot aaklige afgrond tussen ons en die gebeure van2000 jaar gelede bestaan. Hiervolgens is dit eintlik onmoontlik om te
weet wat regtig gebeur het in die geskiedenis (McGrath 2002:285).10 Grafies lyk dit so:

Vir diegene wat ongenuanseerd só redeneer het dit gevolglik geweldige implikasies vir hoe die Bybel vandag gelees en verstaan word. Ek  verwys kortliks na Jurie le Roux en Albert Schweitzer:

Moontlik onder die invloed van die historiese bewussyn soos Lessing dit verduidelik, maak Jurie le Roux die volgende stelling oor geskiedenis:

“Geskiedenis is maar net ’n interpretasie en is voorlopig van aard … Daar is niks vas aan geskiedenis nie en die historisiteit,
feitelikheid en historiese presiesheid van gebeure moet ook nie as basis vir die geloof gebruik word nie” (Le Roux 2006:5-6).

Verder beweer hy dat:

“Historiese feite bestaan nie, jy maak dit .. jy selekteer dit wat jy… later gaan noem as feite … feite is iets wat jyself
maak…” (Verhoor 2006:771).11

In sekere teologiese kringe is dit veral Albert Schweitzer wat bekend geword het vir die stelling dat wie hom met die historiese Jesus besig hou, sê eintlik meer van homself of haarself as van die historiese Jesus (Le Roux 2002:97, Van Aarde 2001:1-3). Sien die bespreking oor Andries G. Van Aarde in die voetnota hier onder.12

Schweitzer sê verder:

elke daaropvolgende era van teologie het sy eie gedagtes in Jesus gevind, dit was, inderdaad, die enigste wyse waarop Jesus vir hulle
lewend gemaak kon word … elke individu het Hom geskep in ooreenstemming met sy eie karakter (Schweitzer 1910:5).

As Afrikaanssprekende laat hierdie tipe stelling mens nogal dink aan Koos du Plessis se liedjie: Kinders van die wind wat praat van “swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind ..” Vir Schweitzer en diegene wat hom volg gee die Bybel dus nié betroubare inligting oor Jesus nie en is dit daarom onmoontlik om te weet wie Jesus nou eintlik was en wat Hy gedoen het. 13

Anders as hierdie posisie is daar ‘n groot hoeveelheid teoloë en Christene wat eenvoudig glo dat ons in die Bybel geloofwaardige getuienis oor Jesus kry.14 Op akademies-wetenskaplike gebied is daar modelle soos die Engelse Analitiese Taalfilosofie 15 en Kritiese Realisme 16 wat hulpmiddels vir gelowiges kan wees om met geloofwaardigheid oor die Bybelse aansprake van Jesus te getuig. Oor
wetenskaplike hulpmiddels in die algemeen stel niemand dit so treffend soos Johannes Calvyn nie:

“As ons een maal die Heilige Skrif gelowig aanvaar het, dan is bewysvoeringe tot bevestiging daarvan wat anders nie van veel waarde
sou gewees het nie, vir ons kragtige hulpmiddels om die sekerheid in ons te versterk” (Calvyn 1951:50).

Die Nuwe Testamentikus William Lane Craig 17 maak hieroor ook ‘n belangrike stelling wanneer hy tereg aantoon dat geloof en kennis nie los van mekaar moet staan nie:

Omdat geloof ‘n volledig-besielende vertoue of “commitment” is, kan dit nie op enige manier gekant wees teen beide kennis of getuienis nie … Inteendeel, Paulus en die Evangelies nooi ons om te glo op grond van die bewyse. Geen Bybelse skrywer kon’n teenstrydigheid konstrueer, sodat wanneer iemand die opgestane Jesus gesien het, dat so ‘n persoon nie meer hoef te glo nie.18

Die Christelike geloof is ‘n historiese godsdiens – gegrond op geloofwaardige historiese gebeure waarvan Jesus se opstanding par exellance ‘n voorbeeld is. Die Nederlandse sistematiese teoloog van die 20ste eeu G.C. Berkhouwer sê dit treffend as hy sê:

“Christus se opstanding het verrykende konsekwensies. Dit is ‘n historiese feit wat met die hart geglo moet word … Dit word duidelik dat die Kerk nog altyd met daadwerklike oortuiging die historiese realiteit van Christus se opstanding verdedig het teenoor diegene wat dit misverteenwoordig het” (Berkhouwer 1976:181-2).

3. Bonatuurlike wonders

‘n Verdere saak in hierdie hele debat wat krities belangrik is, is die vraag: Kan daar nog vandag geglo word in die bonatuurlike opstanding van Jesus uit die dood? Net soos met die voorafgaande saak is daar vir ware Christene vandag geen debat hieroor nie – daar word gewoon in die geloof aanvaar dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Dit kan tereg gestel word dat geloof in die bonatuurlike gebeure rondom Jesus die goue draad is wat ware gelowiges oor 21 eeue saam bind – daarsonder is die Christelike godsdiens kragteloos en bloot die gekonkel van mense.

Dit is ook veral sedert die 18de eeu dat daar ‘n kritiese afkeur in bonatuurlike wonderwerke posgevat het in sekere kringe.19 David Hume wat bekend geword het met sy opstel “Of Miracles” beweer dat natuurwette vás is wat impliseer dat die kosmos ‘n geslote sisteem is. Wonderwerke wat momenteel hierdie atuurwette sou kon deurbreek is gevolglik onmoontlik (Habermas 1987:15).20 Daarom het Jesus dus ook nie uit die dood opgestaan nie. Hume het die weg gebaan vir verskeie ander wat hierdie bewering aanvaar of ge-akkomodeer het en gevolglik op ander maniere probeer het om ‘n verklaring vir Jesus se opstanding te vind.

Ek verwys kortliks na D.F. Strauss, F.E.D. Schleiermacher en Julian Müller.21

David Friedrich Strauss, het in sy 1860 boek The Life of Jesus ‘n teorie ontwikkel dat verál die wonders in die Bybel mities 22 is, en nie na bonatuurlike gebeure teruggaan nie. Strauss sê deur die kerk word die evangelieverhale ontvang as histories: by die kritiese teoloog, word dit groot en deels beskou as blote miete (Strauss 1860:898).

Die bekende “vader” van die Praktiese Teologie23 Friedrich Ernst Daniel Schleiermacher beweer dat Jesus nie régtig gesterf het aan die kruis nie. Hy beweer verder dat Jesus na drie dae “wakker” geword het in die graf, as’t ware die stof afgeskud het en uit die graf gestap het.24

Nader aan die huis hier in Suid Afrika kan mens dink aan die sogenaamde Nuwe Hervorming wat die posisie van “skeptiese natuurwetenskaplikes” inneem, deur ook Jesus se opstanding te bevraagteken. Die opstanding word slegs metafories verstaan. Sien aanhalings oor Sakkie Spangenberg, Louis Jonker en Anton van Niekerk in die voetnota hieronder.25

In sy boek Opstanding, wil Julian Müller juis hierdie alternatiewe interpretasies van Jesus se opstanding as ‘n aanvaarbare alternatief voorhou wanneer hy sê:

“beide die skeptiese natuurwetenskaplike èn die mistieke dromer kan saam sê: ‘ek glo in die opstanding,’ terwyl hulle waarskynlik heel verskillende konsepte daarop nahou. Maar in daardie eenvoudige klassieke belydenis
word ons saamgesnoer as broers en susters ..”(Müller 2006:89).

Sien bespreking oor Ben du Toit, Johann Symington, Willem Nicol en die Noordelike Sinode in die voetnota hier onder. 26
Müller sê ook elders oor Jesus se opstanding:

“Die mense wat vreeslik klem lê daarop dat alles net so letterlik gebeur het en waar is, én dié wat glo dat dit meer figuurlik en metafories 27 verstaan moet word, glo almal op grond van die geloof wat ons ontvang het ..” (Müller 2006:68).28

Tydens die universiteitsverhoor was die volgende vraag aan Müller gestel: Behoort ‘n predikant wat die liggaamlike opstanding van Jesus ontken skuldig bevind te word aan leerdwaling?

Sy antwoord was onder meer:

“Meneer die voorsitter, dit begin tog klink na strikvrae wat aan my gevra word. So ek weet nou nie wat is ‘n strikvraag en wat is nie ‘n strikvraag nie. Dit is duidelik waarheen dit gaan, maar op hierdie punt sou ek tog wil sê dat die konsep waarmee gewerk word, of die uitgangspunt waarmee gewerk word met die formulering van so ‘n vraag, is ‘n situasie van ‘n kerk wat met rigiede reëlswerk, baie presies en spesifieke formulerings of ‘n vereniging soos u dit nou noem en as iemand nie by daardie spesifieke, presiese formulering inpas nie dan is hy ‘n dwaalleraar en dan moet hy ook vervolg word as ‘n dwaalleraar.

Dit is soort van wat ek nou hoor, die agtergrond van die wyse waarop u u vraag vra en daarom kan ek nie eenvoudig daarop ‘ja’ of ‘nee’ antwoord nie want die konteks waarbinne ek funksioneer, die van die NG Kerk, die wyse waarop die NG Kerk omgaan met leerstellighede en leerdwalinge is lank nie gelyk aan dit nie. Met ander woorde die NG Kerk gaan nie meer, as mens kyk na die besluite .. van die Algemene Sinode, die interpretasie oor Skrifuitleg, interpretasie van die Belydenisskrifte, dan is die NG Kerk se manier van omgaan met hierdie goeters nie modernisties nie .. “ (Verhoor 2006:297-8).29

Tydens dieselfde verhoor beweer Müller verder dat ons nié kan sê dat die Nuwe Hervorming se standpunte oor Jesus se maagdelike geboorte en opstanding nié aanvaar sal kan word in die NG Kerk nie. 30

Die Skrif ken hoegenaamd geen kompromie wanneer dit by Jesus se opstanding uit die dood kom nie. Om maar een voorbeeld te noem: In II Timoteus 2 verse 16 tot 19 noem Paulus mense by die naam wat leerdwaling oor die opstanding van gelowiges verkondig. Sy taalgebruik is ook baie reguit:

“Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas …”

In die teologiese boekreeks Handleiding by die Nuwe Testament V word die volgende oor bogenoemde gesê:

“Daar is ook .. die kenmerkende gnostiese dualisme te bespeur deurdat hulle op grond van ‘n hoëre kennis (gnosis) waarop hulle hulle beroem die opstanding spiritualiseer as iets wat alreeds sou plaasgevind het. Hierdie dwaalleer kan miskien die beste beskryf word as ‘n Joodsgnostiese sinkretisme” (Du Toit 1988:188-189).31

Of dit nou die gnostiese dwaling van Himeneus en Filetus is hierbo; of die “moderne” dwaling van groepe soos die Nuwe Hervorming, of diegene wat hierdie standpunte akkomodeer – aan die einde van die dag is dit die verwerping van die hart van die Christelike geloof.

4. Die inhoud van ons geloof?

Geloof in die opstanding van Jesus Christus uit die dood verklap iets voorafgaande: die genadige reddende werking van die Heilige Gees in ‘n nietige sondaar mens. Die Heidelbergse Kategismus stel dit steeds onverbeterlik wanneer dit sê dat ware geloof ‘n vaste vertroue is wat die Heilige Gees, uit lóútere genade in die hart bewerk (HK Vraag en antwoord 21).32 Daarom is die mens se eie sukkelende en selfs opregte “probeer glo”, nié in staat om ware geloof te genereer nie. Sien bespreking oor Wilhelm Jordaan hier onder in die voetnota. 33

Professor Gary H. Habermas, wat self ‘n ateïs was maar later tot bekering gekom het, en vandag as ‘n wêreldklas kenner oor Jesus se opstanding bestempel word, verduidelik dat dit die Heilige Gees is wat mens oortuig dat die Christelike geloof waar is:

Die Christen het die Heilige Gees wat hom oortuig dat die Christelike geloof waar is en dat hy aan God behoort. (Habermas 2004:33).

In sekere kringe is dit egter veral sedert die opkoms van die 19de eeu se historiese Jesus navorsing wat die standpunt ontwikkel het dat geloof ‘n sprong in die duister is – die spreekwoordelike “pie in the sky”.34 Om hierdie posisie te illustreer haalWilliam Craig vir D.H. Van Daalen aan wat sê:

geloof is ‘n sprong in die donker. Dat so ‘n sprong in die donker ‘n moeite werd risiko is, kan net uitgevind word deur dit in der
waarheid te doen. (Craig 1989:338, 31n).35

Karl Bart en Rudolf Bultmann se dogmatiek professor: Wilhelm Herrmann het daarvoor bekend geword om in dieselfde rigting geloof op ‘n soort eksistensialisme,36 lós van Jesus se liggaamlike opstanding, te plaas.37 Daniel L. Deegan toon aan hoedat vir Herrmann, sy kategorie van die ‘innerlike lewe’ van Jesus funksioneer as die grond vir geloof en hoe Herrmann hierdeur dink dat ons die voorwaarde vir geloof in ‘n opstandingswonderwerk as deel van hierdie grond kan vermy (Deegan 1965:87).38

Ek verwys kortliks na drie voorbeelde waar geloof in God lós kan staan van dieliggaamlike opstanding van Jesus.39 Hulle is Gerd Lüdemann, Sandy Wedderburn en Dirk Human:

‘n Goeie voorbeeld van ‘n Bybelwetenskaplike wat aanklank gevind het by Wilhelm Herrmann se verstaan van geloof, is Gerd Lüdemann. In sy boek The Resurrection of Jesus. History, Experience, Theology, bou Lüdemann voort op Lessing se historiese bewussyn40 en kom hy tot die konklusie dat Jesus se opstandingverskynings aan Paulus en Petrus hallusinasies was.41 Met dankbare erkenning aan Herrmann verklaar Lüdemann dat hy ten spyte van hierdie toedrag van sake, homself steeds Christen kan noem (Lüdemann1995:253,703n;706n). ‘n Paar jaar later doen híérdie soort geloof dit egter nie meer vir hom nie en roep hy die Christelike geloof vaarwel (Lüdemann 1999:2-4).

Op ‘n ander vlak, maar in dieselfde rigting is daar diegene wat fokus op ‘n mistieke geloofservaring. Hierdie mistieke belewenis kan ook klaarkom sonder geloof in die liggaamlike opstanding van Jesus Christus. ‘n Goeie voorbeeld van ‘n Bybelwetenskaplike wat hierby aanklank vind is Sandy Wedderburn. 42 In sy boek Beyond Resurrection werk Wedderburn ook met ‘n sterk ontwikkelde historiese bewussyn en kom tot die konklusie dat dit nie moontlik is om in Jesus se liggaamlike opstanding te glo nie. Hy stel dit so:

Die logiese konklusie … lyk daarom te wees ‘n ongelukkige en volledig onbevredigende ‘Weet nie’, ‘n historiese agnostisisme wat enige belydenis van geloof ondermyn, tensy mens op een of ander manier geloof onafhanklik van enige historiese gebeure veranker (Wedderburn 1999:96-7).

Dit is binne hierdie soort agnostisisme wat die mistiek vir Wedderburn ‘n handvatsel bied. Hiervolgens kan God uitgedruk word in beide ‘n reis uit die self .. of ‘n reis binne in die dieptes van die self (Wedderburn 1999:214).43

Sien Wilhelm Jordaan en sy “verwondering en ontvouende misterie” hier onder in die voetnota. 44

Tydens die universiteitsverhoor het Dirk Human verklaar dat ‘n mens, volgens sy artikel oor Jona en die “opstandingsgeloof”,45 kan deel in die opstandingsgeloof”46 sónder om in die liggaamlike opstanding van Jesus te glo:

Voorsitter:”.. u praat ‘n bietjie verder van ‘mense en kerk wat slegs die histories-letterlike opstanding ‘n voorwaarde wil maak.’ Nou normaalweg as iemand ‘n voorwaarde maak dan sê hy, ek wil dit so hê en op geen ander manier nie en as dit in daardie sin verstaan kan word hierso, beteken dit nie dat hier is ‘n sleutel vir mense wat buite om die voorwaarde van die histories-letterlike ook nog in die opstandingsgeloof kan deel? Maw iemand wat sê, ‘ek glo nié in die letterlike, fisiese opstanding nie’ dat die sleutel die deur vir hom ook oopmaak om in die opstandingsgeloof te deel?

Human: Inderdaad. Vanuit die perspektief, vanuit die, as ek dit so kan formuleer, vanuit ‘n Bybelse perspektief hoe ek dus die
opstandingsgeloof verstaan.

Voorsitter: Ja, ek wil u net nie .. mislei nie, ek weet u het gepraat van meer .. maar kan hierdie nie gelees word as ‘anders’? Maw as aan my voorwaarde nie voldoen word nie, my voorwaarde dat dit ‘n letterlike, fisiese opstanding moet wees, dan is daar ook ‘n ander moontlikheid wat erken kan word ..

Human: Ek dink so …

Voorsitter: Nie ‘meer’ nie, ‘anders’?

Human: Ek dink so, ek sou, ja, daarop kon antwoord”

(Verhoor 2006:619-620).

In Human se artikel wat hierbo ter sake is, plaas hy as voorbeeld van die “opstandingsgeloof” ‘n voetnota naas die “histories-letterlike opstanding van Jesus”, waarin daar verwys word na prof. Sakkie Spangenberg van die Nuwe Hervorming in ‘n dwaalleer ondersoek by die ring van Lyttleton:

“Terwyl die ring sê die ‘Christelike geloof kan nie losgedink word van die liggaamlike opstanding van Christus nie waarby die Christendom staan of val’, sê Spangenberg dis vir hom moeilik om aan die fisieke opstanding uit die dood en Christus se herverskynings te glo. Dit gebeur gewoon nie in sy leefwêreld nie… Christus se verskynings aan sy dissiplels verklaar hy daaruit dat hulle so intens met Jesus saamgeleef het dat Hy ná sy dood steeds vir hulle ‘n werklikheid was” (Mischke 2004:2).47

Of dit nou die eksistensialisme van Wilhelm Herrmann; die mistieke ervaring van Sandy Wedderburn; of die “opstandingsgeloof” van Dirk Human is wat ruimte kan laat vir die Nuwe Hervorming, wáre geloof in God kan nie losgemaak word van Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood nie.48 Gerd Lüdemann se tragiese verhaal 49 bevestig dit:

• In 1984 bely hy die liggaamlike opstanding – na die ongenuanseerde aanvaarding van die historiese bewussyn, en die gepaardgaande soeke na die historiese Jesus,

• beweer hy in 1994 dat Jesus se liggaam ontbind het in ‘n graf – hierna help Wilhelm Herrmann hom om vir ‘n paar jaar nog te “glo”,

• en in 1999 skryf hy ‘n brief aan Jesus waarin hy die Christelike geloof vaarwel roep (Mulder 2006:21-2).

In hierdie konteks is Willie Jonker daarom reg wanneer hy sê:

“ die hele evangelie staan en val by die waarheid van die liggaamlike opstanding van Christus” (Jonker 1987:14).50

Daarom is dit gepas om met Paulus se bekende woorde af te sluit:

“as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is
julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook die wat in Christus gesterf het verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (I Korinthiers 15:17-19).

Slot

Ten slotte kan dit dus gestel word: Die ontkenning van Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood gebeur wanneer die Heilige Gees nog nie geloof as gawe aan ‘n mens geopenbaar het nie. Ons het gesien dat ongeloof verskillende vorme kan aanneem en die gevolg kan wees van jarelange blootstelling en onkritiese aanvaarding van sekere filosofiese en hermeneutiese strominge. Dit behels onder meer:

a. Die verwerping van enige absolute waarhede;

b. Die aanvaarding van ‘n eensydige historiese bewussyn waarvolgens dit onmoontlik sou wees om te weet wat 2000 jaar gelede gebeur het;

c. Die verwerping van bonatuurlike wonders;

d. ‘n Eensydig-menslike geloofservaring gestroop van konkrete Christelike geloofsinhoude soos Jesus se liggaamlike opstanding.

Wanneer die Heilige Gees ‘n mens oortuig van die liggaamlike opstanding van Jesus Christus, dan is dit diesélfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het wat ook in die gelowige werk. Dáárdie krag is wat maak dat miljoene mense, 2000 jaar na Jesus se liggaamlike opstanding Hóm volg as dié Weg, dié Waarheid en dié Lewe!

Kyk, Hy kom weer en álmal sal Hom sien!

Ferdie Mulder kan gekontak word by opgestaanpublikasies@gmail.com