‘n Paar los gedagtes oor die Duiwel – 28 Desember 2012, Cambridge.

Deur Ferdie Mulder

Kom ons wees eerlik, om oor die Duiwel, die Bose, bose geeste of Satanisme te praat is nie, of behoort nie vir die deursnee Christen iets lekkers te wees om oor te praat nie. Wie wil nou regtig lank praat oor sulke negatiewe onderwerpe? Hoe ongemaklik of onaangenaam dit ookal mag wees – hierdie dinge bestaan régtig en het ‘n invloed in hierdie wêreld.

Of het dit? Kan ons hierdie dinge nie maar afmaak as die projeksies van deurmekaar mense, epilepsie, kultuurverskynsels (soos professor Julian Müller tydens die 2006 Tukkie verhoor beweer het) of maar mensgemaakte politieke magsisteme nie?

Die bekende Britse geleerde C. S. Lewis, wat eers athëis was en toe Christen geword het, het wat hierdie onderwerp betref dalk in veel meer as een opsig ‘n wyse opmerking gemaak. In sy bekende The Screwtape Letters het hy aangevoer dat daar twee gelyklynige en teenoorstaande wanopvattinge bestaan wanneer mense dink oor die duiwel. Die een groep, as ek hom reg verstaan maak heeltemal te veel van die duiwel, en blammeer hom vir letterlik alle probleme, lyding en ongeluk. Daar is ‘n duiweltjie met horings agter elke hoek en draai. Die ander groep maak weer heeltemal te min van die duiwel en spot met die idee dat daar bonatuurlike demoniese magte bestaan. Vir diegene bestaan die duiwel net eenvoudig nie regtig nie.

Wat laasgenoemde betref is dit ou nuus dat ‘n klein groepie Suid Afrikaanse teoloë al sedert die 1980’s die bestaan van die Duiwel en die Bose verwerp. In 1986 byvoorbeeld, het professor Andries van Aarde dit heel beroemd gestel:

“… Metafories gesien, is die bose soos gate in Switserse kaas.”

In 2000, het dr Ben du Toit verder beweer dat ons as gelowiges in die postmoderne tyd kan sê dat

“die naaste wat ons aan die ‘duiwel’ kan kom, is om in die spieël te kyk” (God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF: Wellington, 2000, p127).

Beide professor Van Aarde en dr Du Toit het nogal beroemdheid verwerf met die stellings, want ‘n mens hoor tot vandag toe nog predikante om koffietafels terugverwys daarna. Ek kan nie hier in ‘n eksegetiese bespreking ingaan van wat, hoe, waarom ensomeer die Duiwel en Bose bestaan of nie. Dit is nie hier die doel nie. Dit gesê gaan ek tog, en bewus van die tekortkominge in wat gesê sal word ‘n paar inleidende opmerkings maak.

Een van die basiese vertrekpunte van die Nuwe Testament is dat daar bo en behalwe die fisiese werklikheid hier op aarde, ‘n bo-natuurlike werklikheid bestaan waar God en sy engele aan die een kant, maar ook die Duiwel en sy bose geeste aan die ander kant bestaan. Dié werklikheid het ook op ‘n bepaalde manier bande met die aardse werklikheid alhoewel dit ook apart daarvan staan. Dit kan ons sien waar Jesus byvoorbeeld bose geeste uit mense gedryf het. Mens dink sommer aan die bekende geval in Matteus 8 waar Jesus bose geeste uit twee mans in ‘n trop varke gejaag het.

Ons weet nie baie van daardie werklikheid of dimensie nie, en dit word op ‘n verskydenheid maniere belig in die Nuwe Testament, maar dat dit bestaan, is vir baie gelowiges gewoonlik onbetwisbaar. Jesus het deur sy kruis en opstanding die uiteindelike oorwinnig oor hierdie bonatuurlike magte aangekondig, met die gevolg dat gelowiges kan uitsien na ‘n toekoms waar hierdie magte, met Jesus se wederkoms totaal aan bande gelê sal word. Ons bevind ons egter nog in ‘n tussen-in fase waar die duiwel en sy bose trawante nog mag het, maar dat gelowiges ook veilig en sonder vrees daarvoor volgelinge van Jesus kan wees. Deur die krag wat die Gees ons gee, moet ons stry teen die magte van die bose wat daarop uit is om die oorwinning wat alreeds aangekondig is in en deur die werk van Jesus Christus teen te staan (sien byvoorbeeld Efesiërs 6 en 1 Petrus 5).

Ek het nou reeds na twee Suid Afrkaners verwys wat skepties staan teenoor die bestaan van die Duiwel en die Bose, maar die beskouings het egter al sedert die 18de eeu, en veral onder bekende Duitse teoloë ontstaan. Een bekende en meer onlangs Lutherse teoloog Rudolf Bultmann, het byvoorbeeld gesê dat dit onmoontlik is om vandag steeds in so ‘n werklikheid te glo, gegewe die ontdekkings van die moderne wetenskap. Hy het dit min of meer so gestel:

“Dit is onmoontlik om elektriese lig en ‘n radio te gebruik, en moderne mediese en kliniese middele vir siektes aan te wend, en terselfdertyd te glo aan die Nuwe Testamentiese wêreld van geeste en wonders”

(Rudolf Bultmann, The New Testament and Mythology, (ed.), by Hans-Werner Bartsch, (trans.), by Reginald H. Fuller, Kerygma and Myth. A Theological Debate, Vol. 1, London: SPCK, 1972, p5).

Ironies genoeg sou nog ‘n Duitser, nie lank na Bultmann se uitspraak nie, verantwoordelik wees vir die Holocaust (die uitwissing van meer as ses miljoen Jode in gaskamers) en ook die Tweede Wêreld Oorlog. Kan mens, in alle billikheid dié gebeure alleenlik en uitsluitlik toeskryf aan natuurlike en menslike faktore? Ek onthou nog so goed hoe professor Piet Meiring wat vir ons Missiologie tydens my teologiese opleiding gegee het, eendag in klas min of meer hierdie retoriese stelling gemaak het. Ek wil, in aansluiting by die NG Kerk se belydenisskrifte, en die Skrif aanvoer dat daar, ook vandag, ‘n bonatuurlike werklikheid bestaan waarbinne die Duiwel, die Bose asook bose geeste funksioneer al is dit tereg ook ‘n veelkantige en komplekse fenomeen.

Met dit alles in gedagte, haal ek ten slotte ‘n betekenisvolle stelling aan van professor JC Coetzee, voormalige hoogleraar in Nuwe Testament van Potchefstroom:

“Begin van jou kant glo dat jou vyand nie regtig bestaan nie, en jy het 99% seker die oorlog klaar verloor” (Skrif en Kerk Jrg 8, nr 1, 1987, p20).

Ferdie Mulder kan gekontak word by opgestaanpublikasies@gmail.com