Deur Somerset (Sommie) Morkel, Pretoria

Daar is sedert die afgelope Algemene Sinode baie woorde wat rondvlieg binne en rondom die NG Kerk. Die groot tema is “Waarheen beweeg die NG Kerk?’ Vir baie predikante en teoloë het die besluite van die NG Kerk welkome nuus gebring in terme van die ‘liberale’ uitkyk op die teologie en hoe die Bybel binne daardie raamwerk vertolk moet word. In sommige kringe word gepraat van ‘n ‘nuwe spiritualiteit’ en van ‘liberale, vernuwende denke’ oor die Bybel..

Dit laat mens onwillekeurig met die vraag wat hierdie – en verwante – terme, behels en hoe mense wat dit onderskryf, optree en reageer op bevraagtekening daarvan deur voorstanders van ‘n ortodoks-bybelse sienswyse. Lg. gaan daarvan uit dat die Bybel as Godsopenbaring nie verander met die tye nie en dat morele en spesiale openbarings en ander beginsels as waarheid staan vir tyd en ewigheid en nie gerelativeer kan word binne die raamwerk of onder die invloed van die postmoderne tydsgees en postmoderne filosofiee nie… Die Skrif verklaar die Skrif, en mens moet nie Skrifbeginsels en Skrifopenbaring verdag maak, afwater en die gesag daarvan as Godsopenbaring, aantas nie. Beskouinge en geloofsperspektiewe wat nie in lyn is met die Skrif nie, moet summier afgewys word. Mens moet nie net die Skrif se gesag behou nie, maar mens moet eerder terug na die Skrif i.t.v. voortgaande reformasie (Semper Reformanda).

Dis interessant om waar te neem dat veral teologiese figure wat opgaan in die ‘nuwe spiritualiteit’ en ‘nuwe denke oor God’ ‘n onderliggende venyn en ongeduld openbaar teen dié wat waarsku teen ‘n wegbeweeg van die Skrifgesag as basis vir ons teologiese uitgangspunte en ons sienswyse i.t.v. waarteen alle uitgangspunte, filosofië en denke getoets behoort word..

Mens wonder waarom diesulkes nie op grond van basis-argumente wil omgaan met die kritici van hul daadwerklike verskuiwing van grense weg van die Skrifgesag af nie.. Hul gebruik maklik terme soos fundamentaliste, literaliste, biblisiste, konserwatiewes, ens om die indruk te wek dat diesulkes in elk geval nie ‘n volle antwoord op hul vrae en besware werd is nie. Diegende word bespot en afgemaak met spottende terminologie wat nie in ‘n Godgesentreerde raamwerk (die kerk van Jesus Christus) tuishoort nie. Besware word selde of ooit punt vir punt beantwoord, en kritiek word maklik beantwoord met die beskuldiging dat dit ‘aanvallend’ is…of dat ‘korrekte prosedures’ nie gevolg is nie. (Asof ‘n mens met ‘n sterk antwoord nie ‘n aanval op sy standpunt kan weerstaan nie?). Ek verwys hier veral na reaksie van die nuwe moderator van die NG kerk, Prof Nelus Niemandt, op die goed-gefundeerde besware van die Ring van Louis Trichardt op besluite van die afgelope Algmene Sinode. Sommiges breek ook maklik die debat af en verdwyn in die niet, of weier om met direkte feite op klinkklare vrae te antwoord.

Dit laat mens met die moontlikheid dat die mense nie wil antwoord nie, want hulle kan nie teen ‘n vaste raamwerk staan, anders as om dit verdag te maak nie.. Dit is juis dalk omdat hulle in ‘n drywende relativisme verval het waar niks later meer seker is nie (behalwe hul eie sienswyses), en geen absolutes meer bestaan nie. ‘n Bekende voormalige teoloog (dr Jannie Malan) het gepraat van ‘n ‘wollerige teologie’ – ‘n uitstekende beskrywing van die denke van hierdie liberale teoloë.

Die onsekerheid van hulle sekerheid is m.i. ingebed in ‘n spanningsveld dat jy voortdurend moet ‘vernuwe’ na nuwe geestes-horisonne wat ‘bevry’ is van die ortodoksie van Skrifwaarhede. Daarom is die sg. Emerging Church met vrydenkers soos die universalis Rob Bell so aantreklik vir hierdie teoloë. Dit bevat egter die kiem van selfvernietiging – omdat dit in wese rebellie teen God behels. Dit word ‘n tragiese bestaan wat smaak na ‘n filosofiese tragedie waar die vaste hoop verdwyn en alleen die tragiese verwagting oorbly dat die tragedie onvermydelik is. Daar is nie werklik hoop nie omdat die tragedie onvermydelik is. Die rede hiervoor is dat die absolutes, die fundamentele, die fondamente van sekerheid, weggeneem word en jy in ‘n vakuum beland waar jy jou eie reëls skep soos jy aangaan, saam met mede-ankerlose ‘drywendes’ sonder die vaste ankers van geloof in God en sy Woord. Intussen is die humanistiese mens-gesentreerde nuwe ‘Teologie van die Relativisme’, hard aan die werk.

Uiteindelik is hierdie teologie nie meer ‘n teologie nie, maar word dit n bestaansfilosofie wat sy eie parameters in elke situasie bepaal. Alles word relatief. Maar dit klink reg – vir die ou natuur van die mens. Die mens en sy pyn en sy menslike behoeftes hierdie kant van die graf staan sentraal. Dit skuif via die humanitêre na die humanistiese toe. God word al meer buite rekening gelaat of word inderdaad as ‘n struikelblok beskou op die pad van menslike bevryding. Die mens word sy eie god en bepaal sy eie toekoms.

Daarom moet dan ‘n Nuwe Wêreldorde kom, en sluit sulke teoloë mettertyd aan by die eenheids-wêreldgees met die alle-paaie-lei-na-Rome fundering – waarin Christus Jesus as enigste Weg en Verlosser nie plek kan hê nie. Heb. 3:1 verval dus vir hierdie dwalendes.

Heb. 3:1 Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely.

Sy unieke offerdaad aan die Kruis en Sy fisiese opstanding word in hierdie proses ge-offer vir die Nuwe Humanistiese Denke van die postmoderne samelewing.

Heb.6:4 Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5 die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6 en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ‘n bespotting. 7 Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8 Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

Heb 10:29 Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?

Ons moet besef dat hierdie proses wat in die NGK aan die gang is (die Trojaanse Perd) ‘n vervulling van profesie van die Here Jesus Christus self is. Juis daarom is dit onvermydelik dat soos Hy self gesê het, “die struikelblokke kom..” Net so ook soos ‘Wie volhard tot die einde toe, sal gered word’Laat ons dus nie “moeg word en uitsak nie”, soos die Skrifte sê. Ons word geroep om getuies te wees onder ‘n “verdorwe en verdraaide geslag”. Ons gebed moet voortdurend wees dat God in Sy genadige beskikking van hierdie mense op Sy tyd sal terugbring na die Waarheid van Sy Woord.

Ter afsluiting ‘n gewaagde stelling: Ek is skepties. Ek glo dat min van die liberale teoloë in die NG Kerk sal terugkom na die fundamentele grondwaarhede van die Skrif, want die gees wat in hierdie mense is, is die gees van “die god van hierdie wêreld” – waarin hulle lankal nie meer glo nie, en dus hulself oopstel en uitlewer aan die magtigste figuur wat die misleiding onder die mense op die aarde bedryf.. “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor..!”

(Kontak Sommie by  khwezi@mweb.co.za)