Hierdie is ‘n opsomming van ‘n lesing wat hy op 24 November in Somerset Wes gelewer het oor die emergent kerk.
Maak seker jy kry Johan se boek, Jesus is die Een!
Ter inleiding noem prof. Van Rensburg dat hy in die 40 jaar wat hy in die bediening is baie blootstelling aan teologiese denke gehad het en gesien het hoe die N.G. Kerk verander het.
1. DAM OF STROOMVERSNELLING
Dr.James Kirkpatrick het by geleentheid verduidelik dat die kerk nie soos ‘n dam moet wees wat stagneer nie maar soos ‘n rivier met stroomversnellings, ‘n kerk wat kan aanpas.
Hierdie metafoor is egter ‘n gevaarlike een aangesien stroomversnellings handuit kan ruk en onbeheers kan raak. As kerk moet die vraag altyd gevra word of die stroomversnellings nog gereformeerd is. Is ons nog by die bron? Reformasie beteken allermins dat ons altyd moet verander maar wel dat ons altyd moet terugkeer na die Skrif.
2. STROOMVERSNELLINGS DIE AFGELOPE TYD
Prof Van Rensburg maak melding van ‘n hele aantal afwykings van die Skrif en Belydenisskrifte.
- Verwerping van die Goddelike natuur van Christus. Hierdie waarheid lê aan die hart van die evangelie en tog is daar al deur ‘n teoloog gesê dat Postmodernisme hom bevry het van die twee nature van Christus.
- Verwerping van die maagdelike geboorte
- Verwerping van die gesag van die Skrif. By geleentheid is Ron Martoia (een van die nuwe denkers wat homself sien as ‘n ‘Transformational Architect’) deur die stigter van E-Kerk (Stephan Joubert) as spreker genooi om by die Mosaiek gemeente in Johannesburg op te tree. Hy het beweer dat die Bybel ‘n klassieke boek is en dat ons dit soos bladmusiek moet lees, d.w.s. om dit altyd nuut te kan interpreteer
- Die geringskatting van die Kerk. Die kerk Is in ‘n Kerkbode artikel as niks belangriker as ‘n piekniek met jou gesin bestempel nie.
- Daar het ‘n verskuiwing plaasgevind van ortodoksie na ortopraksie
3. DIVERSITEIT DEFINIEER DIE STROOMVERSNELLING
Diversiteit is op die oomblik die vlag waaronder die NG Kerk vaar. Die metafoor wat gebruik word is dat die kerk ‘n huis met baie kamers is en dit sou dan beteken dat ons ‘n kerk sonder grense geword het, ‘n kerk waar feitlik alles onder die vaandel van diversiteit akkommodeer kan word.
Die staande besluit van die sinode dat die gereformeerde leer nie in gedrang gebring mag word nie, word deur baie nie ernstig opgeneem nie. Baie eien hulle die reg toe om waarhede, en daarmee ook die Skrif, ‘anders’ te verstaan. Die houding is: Ek reserveer my gedagtes om te verstaan soos ek wil” (Resevatio Mentalis).
Met hierdie uitgangspunt kom die Legitimasieverklaring en Bevestigingsformuliere in gedrang en word leertug onmoontlik.
4. FILISOFIESE STROMINGE
Die pre-moderne, moderne en post-moderne tydperke is nie so duidelik onderskeibaar soos wat dikwels deur teoloë beweer word nie. Daar is ‘n groot mate van oorvleuling.
Waar daar voorheen (moderne wêreldbeeld) niks aanvaar is wat nie bewys kon word nie, is daar nou in die post-modernisme ‘n sg. ‘collapse of unity’ en ‘n veelheid van narratiewe. Daar is nie meer net een waarheid nie, elkeen kan sy eie standpunt hê.
Elke poging wat aangewend word om standpunte uit die Woord te probeer staaf word so maklik as fundamentalisties bestempel.
In ons tyd is die beweging na die ‘Inter-Faith Movement’ baie sterk en word die beklemtoning van die Evangelie en Jesus Christus as enigste Weg tot saligheid teëgestaan. Die ‘Emerging Church’ speel in die nuwe filosofie ‘n leidende rol. As voorbeeld van die teenkanting wat bestaan verwys prof Van Rensburg op die terugtrekking van Franklin Graham se uitnodiging as spreker by die Presidensiele Ontbyt in die VSA nadat hy in ‘n toespraak van Jesus gepraat het as die ‘enigste weg’
Daar word ook melding gemaak van die nuwe godsdiens nl. Chrislam, waar pogings aangewend word om Muslims en Christene saam te laat aanbid
5. SLOT
Status Confessionis nou! In die NGB Art. 29 word die kenmerke van ‘n ware kerk duidelik uitgespel . Moet ons nie nou getuig dat ons nie meer verder kan nie? M.a.w. is dit nie tyd vir ‘n staat van belydenis nie?
Wat ons te doen staan is om op kerkorderlike wyse beswaarskrifte, klagtes en Beskrywingspunte via Kerkrade en Ringe in te dien. Aangesien die volgende AS reeds in 2013 gehou word, moet ons goed voorbereid wees.
(Met dank aan Danie du Plessis vir die opsomming)
Henrietta said:
Daar is in die Desember 2011 uitgawe van JUIG! ook ‘n stuk oor hierdie boek van Prof Johan – dis ongelukkig nie elektronies beskikbaar nie. ek is nou so een derde deur die boek – heldere uiteensetting van die ware evangelie sover!
Pingback: Korrespondensie met prof Nelus Niemandt « hier staan ek
Marius Storm said:
Prof – uit Nederland. Baie dankie dat u nog vas staan ons bid en hoop vir ‘n wonderwerk – u is nie alleen nie.
Gert van Rensburg (GJ Janse van Rensburg) said:
Prof,
Ek huldig al lank die siening dat die NGK op die verkeerde pad is en dit was vir my wonderlik om te sien dat my beskouings in ooreenstemming is met die van u en u en ander teoloë (apport 28 Okt 2012).Ek het reeds in Nov 2006 ‘n artikel,”Verlos ons van hierdie euwels”, in die Kerkbode gepubliseer wat van die huidige probleme uitlig. ‘n Predikant het verlede jaar in my kerk gesê dat die NGK hom nou bevind waar die Katolieke kerk was voor Martin Luther se 95 stellings, m.a.w. kerkleiers stel hulleself bo God se Woord. Ek is deel van Die mense wat as “fundamentaliste” uitgeskel word. Maar as jy nie God se Woord onwrikbaar as die Waarheid huldig nie, het jy ‘n wanbegrip van jou verhouding met Hom. Graag wil ek weet hoe ek in kontak kan bly met u groep van regdenkende mense op die pad vorentoe.
hierstaanek said:
Hi Gert
Ek stel voor jy maak kontak met Daniel Louw by glodiebybel.co.za
Groete
Wynand