– ’n poging tot kommentaar op Nico Geldenhuys se 5/11/2011 BY artikel (“My brief aan die kerkdeur”)
(Let asb op dat hierdie nie die volledige artikel is nie. Dit is hier te vinde)
Net mooi ‘n dag ná Nico Geldenhuys se artikel in BY verskyn het (“My brief aan die kerkdeur”, 5/11/2011), ontvang ek uit die bloute op Facebook ‘n persoonlike boodskap van ‘n bekommerde moeder wat vertel van haar seun en skoondogter wat dié Sondag-more uit die kerk gestap het nét toe die gemeente predikant ‘n teoloog voorstel wat die erediens sou waarneem. Waar Nico sy “Bybel gegryp [het] en na die uitgang gehardloop” het ten tye van ‘n nagmaals erediens – klaarblyklik omdat hy nie meer kan glo in die “mites” van ‘n Jesus wat maagdelik verwek is, vir ons sondes gesterf het, en letterlik uit die graf opgestaan het nie, het dié jong egpaar dieselfde gedoen maar om heel ander redes.
Maak nie saak wie die teoloog was wat gepreek het nie, die jong egpaar het klaarblyklik beleef dat hulle geloof in dié Jesus wat vir hulle maagdelike verwek is, vir ons sondes gesterf het en letterlik opgestaan het, hulle genoop het om op te staan en uit die kerk te stap. Later sou ek hoor dat die jong man al vroeër respekvolle gesprekke met dié teoloog gehad het, wat hom oortuig het dat hierdie geleerde se “dogma” nie meer die goeie nuus van die Bybel is nie. Nes Nico sy opstaan klaarblyklik met Martin Luther kon vergelyk, so sou die jong egpaar ook kon doen.
Sommige teoloë en navorsing wys tereg daarop dat daar in veral die Weste ‘n afname in kerkbywoning is en dat die gesekulariseerde samelewing ‘n negatiewe uitwerking het op voorheen Christelike gemeenskappe (Sien bv. Philip Jenkins se Next Christendom). In besonder hoor mens ook in dié kringe van ‘n diepe skeptisisme as dit kom by dogmas soos Jesus se maagdelike verwekking, kruisiging of sy opstanding. Met ‘n Jesus wat morele wyshede, liefde en sosiale geregtigheid vir ons gee is daar geen probleem nie, dis die bonatuurlike en unieke aansprake wat ‘n enorme probleem skep. Nico se verhaal illustreer iets daarvan.
Aangekom in Engeland in 2007, waar ek met ‘n meestersgraad in die bybelwetenskappe begin het, het ek my sielkundig voorberei vir ‘n yskoue ontvangs, want mens is gereeld gewaarsku dat meeste Europese bybelwetenskaplikes en filosowe nie meer so naïef is om te glo in die “mites” van ‘n Jesus wat maagdelik verwek is, vir ons sondes gesterf het, en wat letterlik uit die graf kon opstaan nie.
Hoe aangenaam verras was ek nie! Vinnig te lande het ek gaan rondkrap in groot boekwinkels en reg langs Richard Dawkins, Christopher Hitchens en John Humphrys óók die boeke van CS Lewis, Alister McGrath en Peter Hitchens op die rakke kon vind. Drie bekende ateïste (die laaste Christopher se broer) wat na intense navorsing en worsteling uiteindelik Christene geword het.
Ook by sommige universiteite is ek verras. By Cambridge ontmoet ek verskeie bybelwetenskaplikes wat met integriteit glo dat Jesus se liggaamlike opstanding steeds vandag die mees geloofwaardige verklaring vir die historiese getuienis is – en hulle álmal neem Sondae met ‘n skoon gewete deel aan die nagmaal. Ook in Wittenberg, Duitsland hoor ek uit die mond van ‘n wêreldbekende professor wat die Martin Luther leerstoel beklee, dat hy op grond van dekades se navorsing en eksegese steeds daarvan oortuig is dat Jesus se graf leeg is en dat hy regtig uit die dood opgestaan het. Wat meer is, die teoloog wys my die eerste (massiewe groot) weeshuis in Duitsland (‘n klipgooi vanaf sy kantoor) wat deur August H. Franke begin is in die nadraai van die Lutherse reformasie in Halle. Alles glo die dankbare gevolge van en hoop in ‘n gekruisigde en opgestane Here wat verlossing vir sondaars bewerk het.
Ferdie said:
Dankie Henning!
Henning said:
Goeie artikel deur Ferdie! Dit is met hartseer dat mens lees van ouens soos Nico, en ek sê dit met ‘n treurige stem, want ek het self vriende wat, vir gebrek aan ‘n beter term, ‘hul geloof verloor het.’ Dit maak dit nog meer hartseer wanneer mens agter die kap van die byl kom en sien dat hulle nie grondige, goed-nagevorste redes hiervoor gee nie, maar wye stellings maak oor “mites”, “tierlantyntjies” ens. Hulle glo wat hedendaagse liberale teoloë vir hulle sê, en doen nie werklik die moeite om, indien hulle twyfel, die tyd en energie te bestee om self die feite te ondersoek en te kyk of dit wat vir hulle gesê word wel so is nie.
Om jouself ‘n Christen te noem, en dan te sê dat jy nie glo in die leiding, soendood en letterlike, fisiese, liggaamlike opstanding uit die dood op die derde dag van Jesus, die Lam van God wat wat die sonde van die wêreld wegneem, nie, is ‘n non sequitur (dit volg nie), m.a.w., dit is ‘n stelling wat nie logies sin maak nie. Die teenvraag is dan – hoekom, of miskien, hoe kan, jy jouself dan nog ‘n Christen noem? (1 Korinthiërs 15:14ff). Dit geld vir predikante ook.
Aan Nico en ander in sy posisie, as jy twyfel, bid (al glo jy nie dat God bestaan nie) dat God die waarheid aan jou sal openbaar, en jou die onderskeidingsvermoë sal gee om waarheid van leuen te kan onderskei. Moenie die Bybel met allerhande voorveronderstellings benader nie, en bid tot God dat Hy deur die Heilige Gees jou die nodige insig sal gee om die Skrif reg te verstaan en interpreteer. Bid dat Hy vir jou sy Seun, Jesus Christus, sal gee (Johannes 5:39) in die bladsye van die Skrif. Hy het vir jou sondes ook gesterf.
Laastens, sonder die opstanding, beteken die kruisiging niks, want as Christus nie opgewek is nie, dan is ons geloof nutteloos, en dan is ons nog in ons sondes. Die opstanding is wat alle profesië waar laat word het. Die opstanding is wat ons verlossing verseker, want Jesus het opgestaan vir ons regverdiging. Dit is bemoedigend om te sien hoe hedendaagse wêreldklas teoloë die lewe, leiding , kruisdood en (letterlike, fisiese, liggaamlike) opstanding van Jesus Christus bely. En ons wat steeds daarin glo, ten spyte van al die verskeie strominge hier in Suid Afrika, asook in die res van die wêreld, kan almal saam bely, “Die Here het regtig opgestaan!!!!”