Hierdie artikel is vandag op Kerkbode Aanlyn gepubliseer.
http://www.kerkbode.co.za/NuusLees.asp?id=240
Ek het die volgende brief as kommentaar gestuur, en wag om te sien of hulle dit sal plaas.
Geagte Kerkbode
Ek wil graag Kerkbode se lesers verwys na my blog, hierstaanek.com, waar meeste van dr Gerber se kritiek reeds in een of ander vorm beantwoord is.
Dit is jammer dat dr Gerber skynbaar glad nie my klag teen die Algemene Sinode gelees het voordat hy kommentaar gelewer het nie. Ek het op geen stadium beweer dat die sinode besluit het dat die bose nie bestaan nie, of selfs dat die duiwel nie bestaan nie. Ek het slegs uitgewys dat die sinode besluit het dat daar “ruimte” in die kerk is vir dié wat die bestaan van die duiwel as persoon ontken.
Joh.8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.
Jesus beweer hier dat die duiwel ‘n morele persoon is. Hy beweer die duiwel het ‘n wil en kan aksies inisieer. Ek het uitgewys dat indien die duiwel nie as persoon bestaan nie dit die volgende onvermydelike implikasies het:
–Indien die duiwel nie bestaan nie beteken dit dat Jesus geen spesiale kennis buite sy konteks as mens en sy historiese agtergrond gehad het nie.
–Dit beteken dus dat Jesus leuenagtig aanspraak gemaak het oor kennis oor die duiwel wat hy nie gehad het nie.
–Dit kan alternatiewelik beteken dat Jesus onder ‘n waan verkeer het, en dus psigoties was.
–Beide afleidings is ernstige Godslastering. Hoe kan iemand wat lieg, of psigoties is, vir my sondes sterf?
Elke leraar van die NG Kerk het met legitimasie belowe om dwaalleer te bestry en uit die kerk te weer. Die sinode se besluit om ruimte te skep vir hierdie dwaling is dus ‘n blatante verbreking van die legitimasie eed.
Ten spyte van geweldige kritiek (daar was meer ondersteuning as kritiek, lees asb die kommetaar en eposse wat op my blog publiseer is) was daar nog nie een geldige Bybelse of kerkregtelike rede waarom die aanklag teen die sinode nie geldig is of nie behoort voort te gaan nie.
Wat dr du Toit betref: Hy het geweier om wat hy glo op skrif te stel. Dit is kommerwekkend. Omdat hy nie bereid was om wat hy glo op skrif te stel nie, kon ek nie dink wat enigsins bereik sou kon word met persoonlike gesprek nie. Ek wil u ook wys daarop dat al my korrespondensie met dr du Toit op hierstaanek.com gepubliseer is. Die lesers kan dus self hulle eie afleidings maak.
Dit lê dus by dr Ben du Toit en die moderamen om gebasseer op die Bybel, die belydenisskrifte van ons kerk, en die kerkorde ‘n logiese argument te voer waarom die betrokke tugklagtes nie moet voortgaan nie. Tot dan sal persoonlike gesprekke van min waarde wees.
Maar uiteindelik sal elke ring hierdie debat moet voer, omdat hulle volgens die kerkorde verplig is om my skriftelik van hulle besluit om te tug of nie in kennis te stel.
Jesus noem dwaalleraars wolwe in skaapsklere wat die kudde verskeur.
Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. Mag God my help.
Amen
Wynand Louw
Henrietta Klaasing said:
Volgens Neels Jackson se berig “NG Kerk laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel” (Beeld, 13 Oktober) sê dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie en hy word blykbaar daarin gesteun deur ander afgevaardigdes by die AS.
Wat ’n hooplose boodskap van die AS-leiers aan sy getroue NG lidmate! Mense wat die Bybel sien as “woorde oor God” en nie “die Woord van God” nie, gebruik graag woorde soos “mities” en “metafories” vir dit waarin hulle nie glo nie (of nie wil glo nie, want dan hoef hulle mos nie verantwoording te doen nie?).
Die leer oor die duiwel (op verskillende plekke in al drie belydenisskrifte van Gereformeerde kerke) het te doen met die sondeval soos ons daarvan lees in Genesis 3. Paulus verduidelik dit so in Rom. 2 vers 23: dat ons almal gesondig het en dat dit ons ontbreek aan die heiligheid van God. Die sondeval het ’n breuk tussen God en mens veroorsaak wat net herstel kan word deur die reddende genade van Jesus Christus deur sy dood, in ons plek, vir ons sondes, aan die kruis.
Geen bose, geen sondeval. Geen sondeval, geen mensdom wat verlossing nodig het nie.
Eeue en eeue se sendingwerk en Christen-marteling oor die wêreld heen vergeefs.
Jesus het verniet gely en vir niks aan die kruis gesterf. Geen hiernamaals. Jammer, broers en susters, geen “evangelie” (goeie nuus) nie, als net sleg …
“Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n ander evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref!” (Gal.1:8) – Henrietta Klaasing