Ds Petrus Kriel en die ring van Louis Trichard het op 24/10/2011 besluit om ‘n gespreksdokument uit te stuur oor sekere besluite van die Algemene Sinode van 2011. Dit handel oor die Belhar Belydenis, saamwoon buite die huwelik en die bediening van bevryding.
Die volledige dokument is hier beskikbaar:
https://hierstaanek.files.wordpress.com/2011/10/louistrichardring.doc
Ek wil graag fokus op sy bespreking van die besluit om dwaalleraars oor die bestaan van die duiwel in die kerk te bemagtig. Ek haal aan:
“In presies dieselfde besluit wat vir die eerste keer duiweluitdrywing as bediengshandeling van predikante goedkeur, stel die AS: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose anders interpreteer.” Anders interpreteer beteken in hierdie besluit niks anders as dat daar nou ruimte is in die NG Kerk om nie te glo dat die duiwel en duiwels gevalle nie engele is wat werklik en persoonlik bestaan nie. […]
“Volgens die besluit van die AS is daar in die nuwe kerk waaraan hulle nou visioneer ruimte dat mense nie meer hoef te glo dat die duiwel en duiwels AS regtig skepsels met “’n eie wese, gestalte, voorkkoms en onderskeie take” nie. Volgens die AS is daar nou vir dit wat in die NG Kerk se belydenis genoem word die “dwaling van die Sadduseërs” ook ruimte.
“Die absurditeit van hierdie innerlike teenstrydig besluit is nou werklik so dat in die NG Kerk predikante duiwels kan uitdryf wat nie werklik bestaan nie.”
Volgens Rapport van 30/10/2011 het Dr. Christo de Klerk vir Ds Kriel beskuldig van “liefdeloosheid” en “verdagmakery” en Ds Johan Ernst, ‘n kerkregkenner sê dit “saai verwarring.”
http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/NG-ring-vaar-uit-oor-kerk-se-Belhar-besluit-20111029
Dit is werklik jammer dat die wat nie met die behoudende posisie saamstem nie alyd eerste begin met ‘n ad hominem aanval teen die persoon wat dit waag om op te staan vir die waarheid. Ds Kriel is nou ‘n “liefdelose verdagmaker”. Daar hoef tog nie ernstig gekyk te word na ‘n “liefdelose verdagmaker” se argument nie?
Ek wil graag die volgende aan Dr. de Klerk en Ds. Ernst noem: Die Algemene Sinode van 2011 het ‘n ernstige korporatiewe sonde gepleeg wat geweldige openbare aanstoot gee met die besluit om dwaalleraars in die kerk in te nooi en te bemagtig.
Ds Kriel het sy gespreksdokument slegs intern in die NG Kerk versprei.
Ek het persoonlik baie briewe ontvang van mense wat my van “liefdelose verdagmakery” beskuldig het. Tog was daar nie een koherente, logiese argument op Byblese gronde waarom die Algemene Sinode van 2011 nie onder tug geplaas behoort te word nie.
In plaas van om die persoon en die werkwyse aan te val, waarom word die inhoud van Ds Kriel se dokument nie argumenteer nie?
Wynand Louw
maria said:
dit pla my om te lees dat sommige kerke die bestaan van satan ontken. in die Bybel het Jesus baie keer na satan en bose geeste verwys. hoeveel keer het Hy nie bose geeste in mense aangespreek en outoriteit van hul geneem.As satan nie bestaan volgens hierdie dwaallering, wie het Jesus in die woestein kom besoek en hom in versoeking gebring en vir wie het Jesus gese, gaan weg agter my satan! (mat16) en in EF 6 gewaarsku, daar staan dat ons die volle wapenrusting moet opneem sodat ons staande kan bly in dag van onheil, en dat ons die skild van geloof moet opneem om vurige pyle van bose kan uitblus, as satan en sy bose nie bestaan????
Somerset (Sommie) Morkel said:
Mens moet onthou dat enigiemand wat die bestaan van Satan ontken, nie weerbaar KAN wees teen die aanslae van lg se misleiding en sy vernietigingswerk nie. As Paulus skryf dat ‘in die laaste dae mense die leringe van duiwels (sal) aanhang’, hoe kan hierdie ouens nou slimmer wees as Apostels wat deur Christus Jesus self geleer is oor die geesteswereld? As Paulus verder skrywe dat “die Satan rondloop soos ‘n brullende leeu om te sien wie hy kan verskeur”, het Paulus dit gedroom? Ek verkies om te glo dat die moderne teoloee waarvan daar deesdae heelwat in die NGK is, aan die droom is omdat hulle ‘n geestelike werklikheid wegdroom.. Maar dis ‘n soort droom waarvan mens wakker word, dan is jy IN die nagmerrie van ‘n realiteit wat jy gedink het bestaan nie… Wanneer mense nie glo dat die duiwel bestaan nie, is dit nie lank voordat hulle ook die bestaan van Christus Jesus AS ENIGSTE VERLOSSER ontken nie – juis omdat hulle onder die misleiding van die Satan aan die dwaal is. Hulle verval dan in nuwe filosofiee wat die stroom wat jou laat wegdrywe van die Ware God, al sterker laat word totdat jy in die helse vuur beland (die einde van die sinlose droom en die blindheid vir die relaiteit van Satan). Dis nogal ‘n helse ontnugtering..!