Antwoorde op die mees algemene kritiek op my klag teen die sinode. Lees dit asseblief voor jy my skiet!
1) Jy het nie die regte prosedure gevolg nie. Waarom stig jy onenigheid in die openbaar? Jy moes eers met die betrokke persone gepraat het, of met jou eie kerkraad of ring. Jy moes aansoek gedoen het vir hersiening van die sinode se besluit en nie klagtes teen indiwidue wat by die besluit betrokke was gelê het nie. Jy kan nie via omsendbrief ‘n tugklag lê nie!
a) Uit die aard van die aanklag is dit onmoontlik om te weet wie vir die resolusie gestem het. Dit is dus onmoontlik om met ‘n indiwidu te praat. Dit is egter maklik en uiters prakties vir elke ring om vir die leraars wat hulle by die sinode verteenwoordig het te vra of hulle vir die resolusie gestem het.
b) Ek besef dat dit wel moontlik ‘n fout was om nie eers met Dr du Toit te praat nie, ek het egter intussen breedvoerig met hom korrespondeer en besef dat dit absoluut geen verskil aan die uitkoms sou maak nie. Dr du Toit stel skynbaar geensins belang daarin om hom van die BEELD berig te distansieer nie. Hy het ook geweier om ‘n repliekverklaring te skryf.
c) Die sondes waaroor die twee aanklagte gaan is in die openbaar gepleeg en veroorsaak ongelooflike openbare aanstoot. Dit is dus nie ek wat die saak in die openbare arena geplaas het nie maar die mense wat gestem het om dwaalleraars in die kerk in te nooi en bemagtig, en Dr du Toit in sy uitspraak teenoor BEELD.
d) Ek het, volgens die kerkorde se vereiste, die klag na elke betrokke ring gestuur waar mense moontlik kon wees wat betrokke was by hierdie sonde.
e) Ek het besluit om die epos ook wyer uit te stuur omdat die sonde in die openbaar gepleeg is en ernstige openbare aanstoot gee.
f) Elke enkele eposadres wat ek gebruik het is die van ‘n leraar in die kerk, of ‘n direkte werknemer van die kerk. Ek het geensins die epos na enigiemand buite die kerk gestuur nie omdat ek dit as ‘n interne saak in die NGK beskou. Net so het ek my webwerf se adres slegs binne die NG Kerk (via die twee eposse) bekend gemaak.
g) Ek het ook met geen verslaggewer of iemand in die pers daaroor gepraat nie – verwys asb na beide die Volksblad en die Rapport berigte.
h) Sover ek weet is die Sinode nie ‘n regspersoon volgens die kerkorde nie en kan dus nie aangekla word nie. ‘n Aansoek om revisie spreek eenvoudig nie die feit aan dat ‘n ernstige openbare sonde deur individue gepleeg is nie. Die sinode sit eers weer oor vier jaar – dus sal hierdie sonde vir vier jaar staan en dwaalleraars sal vier jaar lank “soos wolwe in skaapsklere die gemeente verslind” as ek slegs aansoek doen vir revisie.
i) Volgens die kerkorde is selfs slegs ‘n “nadelige gerug” kerkregtelike gronde vir ‘n tugondersoek. Dit gaan dus my verstand te bowe hoe enigiemand kan beweer dat ‘n “omsendbrief” wat baie duidelik ‘n “skriftelike klag” volgens die kerkorde is nie gronde is vir ‘n tugondersoek kan wees nie!
Uit die Kerkorde:
62.2 Alle ouderlinge, diakens en predikante, wat emeriti en proponente insluit, staan onder die opsig en tug van die ring, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit (vgl. Art. 31.7).
62.3 Predikante in diens van die kerkverband (waarby teologiese dosente ingesluit word), staan wat hulle leer en lewe betref onder die opsig en tug van die ring binne wie se gebied hulle lidmaat is van ’n gemeente
63.2 Aanmelding van ’n klag, gerug of ’n verslag
63.2.1 Die sondes waarna Artikel 61.2 verwys, kom op een van drie maniere voor die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde:
63.2.1.1 deur ’n nadelige gerug of
63.2.1.2 ’n skriftelike klag of
63.2.1.3 ’n verslag aan die kerkvergadering wat voortvloei uit amptelike werksaamhede.
2) Jy haal die sinodebesluit buite konteks aan: Dit gaan oor die bediening van bevryding!
Ek het nooit die konteks ontken nie. Sien asseblief my artikel oor die “Sinode van 2011 en die duiwel”. https://hierstaanek.com/2011/10/05/die-algemene-sinode-van-2011-en-die-duiwel/
Ek sal dit waardeer indien enigeen vir my kan uitwys hoe die konteks die betekenis van par 14.7 verander sodat die nie beteken dat die NG kerk ruimte maak vir leraars wat die bestaan van die duiwel ontken nie.
Hierdie klousule is onder die radar deur aan ‘n ander onderwerp aangelas:
“14.7: Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”
Dit is ‘n algemene, onderduimse onderhandelingstrategie om belangrike besluite deur te druk sonder dat die onderhandelaars besef wat aangaan. Haak die besluit in fynskrif aan ‘n ander besluit op die tafel waarvoor die onderhandelaars stem, dan gaan die “stealth” besluit deur sonder dat die onderhandelaars dit besef!
Verstaan my mooi, ek beskuldig niemand van bewuste onderduimsheid hier nie. Ek wys net uit wat hier gebeur het.
Die afgevaardiges is gevra om te stem oor die bediening van bevryding. Die gevolg is dat dit nou amptelike beleid van die NG Kerk is dat leraars soos dr Ben du Toit wat die bestaan van die duiwel ontken en dus by implikasie Jesus ‘n skisofreen of leuenaar noem, ruimte het in ons kerk!
Elke leraar wat vir die klousule gestem het behoort verantwoordelik gehou te word.
3) Die sinode het nooit besluit dat die duiwel nie bestaan nie.
Ek het nooit beweer dat die sinode besluit het dat die duiwel nie bestaan nie. Om egter dwaalleraars in die kerk in te nooi en te bemagtig deur vir hulle “ruimte” te skep is duidelik ‘n verbreking van die legitimasie belofte.
4) Jou interpretasie van die sinodebesluit is eensydig.
Hoe is dit eensydig? Wat my betref is dit feitelik korrek: Die sinode het besluit om vir mense wat nie in die bestaan van die duiwel glo nie ruimte te skep in die kerk. Ek dink die leser moet maar self besluit.
5) Jou gedrag is liefdeloos, verdelend en onchristelik. Jy maak mense verdag. Wil jy hê die kerk moet skeur?
Dit is wat die Bybel sê van dwaalleraars:
Mat. 7:15: “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.”
Hand.20:28 Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29 Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30 Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31 Wees waaksaam.
1 Tim. 1:3 Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied.
2 Pet.2:1 Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort. 2 Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. 3 In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar.
Die vraag is: As vals leraars gelowiges verskeur, as hulle gelowiges uitbuit en mense se ewige verderf bewerkstellig, is dit liefde om hulle in die gemeente toe te laat?
Is dit liefde om booswigte in jou huis in te nooi sodat hulle jou familie kan aanrand?
Ek wil beslis nie hê die kerk moet skeur nie. Ek wil hê elke vals leraar moet tot bekering kom.
Maar as hulle weier om tot bekering te kom wil ek beslis hê hulle moet die kerk verlaat of uit die kerk geban word. As ons werklik mense lief het kan ons eenvoudig nie vals leraars in die kerk innooi en bemagtig soos die sinodebesluit dit doen nie!
6) Dit is middeleeus om in die bestaan van die duiwel te glo! Daar is goeie redes waarom progressief denkende teoloë onstlae raak van al die mites.
Dit is skrikwekkend hoeveel leraars in ons kerk hierdie vals leringe aanhang. Ek het selfs ‘n brief van ‘n hoogleraar aan een van ons universiteite waarin hy ondubbelsinnig die leer van die Bybel en ons belydenisskrifte verwerp.
Ek maak ‘n punt daarvan om mense wat my optrede kritiseer te vra of Jesus hulle Verlosser is. Dit is skrikwekkend hoeveel ampsdraers in die NG Kerk hulleself eenvoudig nie sover kan bring om te bely dat Jesus hulle Verlosser en Saligmaker is nie.
Kan enigiemand nog wonder waarom dit nodig is dat hierdie tugaksie voortgaan?
Andre said:
As jy reg is, is jy reg.
hierstaanek said:
Louis stuur vir my hierdie aanhaling nou net per epos. Dankie Louis!!
Na aanleiding van uitlatings deur Rob Bell in sy boek”Love Wins”, het ‘n dame met die naam, Theresa Morris die volgende kommentaar gelewer, “The wolves in sheep’s clothing are more scary than the Muslim Jihadists. The worst that the the Jihadists can do is kill bodies. After that, people go to Heaven or hell, depending on their relationship with Jesus (Or the lack of it). However, the Robb Bells of the world refuse to enter the narrow gate and they hinder people who are trying. People will go to hell b ecause of them. That is a lot worse than being blown up.”
Melané de Villiers said:
Ek stem nogal heelhartig saam met Ds Du Toit. Ek is self ‘n leraar en lees in die Bybel (na Jesus se opstanding) want met Sy dood en opstanding het Hy ALLES oorwin!! En Mat 28: sê reeds vir ons dat ALLE outoriteit en mag in die hemel en op die aarde is aan Jesus Christus gegee! Nou hoeveel mag dink u, liewe skrywer, het oorgebly vir die duiwel as Jesus Christus ALLE outoriteit en mag het.
Dan verder in Hebr 2:14 …that by [going through] death He might bring to nought and make of no effect him who HAD the power of death – that is the devil. God het ‘n openbare spektakel van die duiwel gemaak, hom uitoorlê en hom vernietig.
Lees dan ook 1 Joh 3:8 …the reason the Son of God (dis Jesus) was made manifest (sigbaar in menslike vorm) was to undo (destroy, loosen and dissolve) the works of the devil.
Nou is die vraag my liewe skrywer: Dink jy dat Jesus suksesvol was met dit wat Hy aan die kruis wou doen? Verseker was Hy suksesvol. Met ander woord dan HET Hy die duiwel vernietig. Dis ongelukkig net in mense (wat nog vol van tradisie en oorlewering is) se koppe wat die duiwel nog vir hulle bestaan.
Kol 3:11 Christ is ALL and in ALL. Christus is in ALMAL. En Hy is die LIG en waar die LIG is kan daar GEEN duisternis wees nie.
Christus is alomteenwoordig. Daar is geen plek of spasie waar Hy nie kan wees nie. Anders is die woord alomteenwoordig nie alomteenwoordig nie. Dus is Hy oral. En Hy is die lig en daar kan geen duisternis wees waar Hy is nie. Dus, die duiwel wat duisternis is, het geen plek nie. Want waar kan hy wees as die lig ooral is? Die duiwel is VERNIETIG!!!
Dis net in mense se koppe waar die duiwel nog plek kry. Jy weet dat die skrif ook sê: Daar is niks wat my kan skei van die liefde van God nie. Dan sê die skrif op ‘n ander gedeelte in Kol 1:21 They were alienated en separated from God in their minds. Dis net in mense se ‘minds’ dat hulle van God geskei voel en dit is dan in hierdie omstandighede dat hulle nog ou tradisies en Joodse wette glo.
En ou tradisies en oorlewering maak die woord van God kragteloos. En wie is die woord. Joh 1:1 In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God en het onder ons kom woon. Dus is Jesus Christus self die Woord. Ons ou tradisies en oorleweringe maak Jesus Christus (die Woord kragteloos). Dit wat Hy aan die kruis deur Sy dood vir ons kom doen het maak ons daardeur kragteloos. Dan sal die duiwel nog vir sodaniges bestaan.
Wanneer daar verder in die skrif na Jesus se opstanding melding gemaak word van die duiwel, gaan doen bietjie meer ondersoek deur wie daarvan praat en aan wie die briewe geskryf was en in watter tydperk. Dis belangrik om te weet dat die apostels en self Paulus en Petrus nog vasgevang was in die Joodse tradisies en wette in baie van hul vroeëre boeke, maar hoe meer hul in Christus se openbaring van die waarheid ingekom het, hoe meer verander hul skrywes.
Jy sal die Waarheid ken, en die Waarheid sal jou vrymaak. Joh 8:32. Gal 2:20 sê: “Ek is saam met Christus gekruisig, ek leef nie meer nie, maar Christus leef nou in my”. Nou as ek nie meer leef nie, maar Christus leef in my, dan is die lewe wat ek nou leef Christus. Dan kan daar onmoontlik nie plek vir enige duiwel wees nie. Want Christus kan nie ‘n demoon of ‘n duiwel hê nie. En Hy leef in my!
Maklike toets vir geloof: 2 Kor 13:5 Kom ons toets of jul in die geloof is, glo jy nie dat Jesus Christus IN julle is nie?”
Net my opinie van die Waarheid wat my vrygemaak het van sonde en enige bindinge op my lewe. My fokus is op Jesus Christus die begin en einde van my geloof. Nie op enige ander demone of duiwels nie.
hierstaanek said:
Hallo Melané
Eerstens wil ek jou bedank vir jou eerlikheid om “uit die kas te kom” oor jou geloof. Daar is min leraars vandag wat die moed van hulle oortuiging het om te doen wat jy nou doen.
Jy sê egter nie in watter denominasie jy ‘n leraar is nie. Indien dit in die NG Kerk is moet ek jou daarop wys dat jou legitimasie verklaring, en indien jy in ‘n gemeente staan en salaris trek, jou dienskontrak, bepaal dat jy in die die bestaan van die duiwel moet glo. Jy verklaar tog immers in jou legitimasie verklaring dat jy glo Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis stem ooreen met die Woord van God!
As jy ‘n leraar in diens is van die NG Kerk pleeg jy dienskontrakbedrog indien jy die bestaan van die duiwel verwerp. Jy is dan ‘n bedrieer, ‘n skelm en ‘n skurk.
Kom ons begin maar by basiese Gereformeerde teologie:
A) Oor die mag van die duiwel.
1) God is absoluut soewerein.
Dit beteken die duiwel het nooit enige outonome mag gehad nie. Indien die duiwel outonome mag gehad het sou ons ‘n dualistiese godsdiens gehad het waar die duiwel ‘n soort teen pool van God was. Hierdie dualisme word eksplisiet as die dwaling van ide Manigeêrs verwerp in Artikel 12 van die Nederlandse geloofsbelydenis. Dit is ontstellend dat Prof Nelus Niemandt by geleentheid hierdie vals strooipop van dualisme gebruik het om die vraag oor die bestaan van die duiwel te ontwyk.
2) Omdat God soewerein is, het die duiwel slegs mag wat God hom toelaat om te hê.
God het die engele met vrye wil geskape, dus die mag om teen God in rebellie te kom. Net so het hy Adam en Eva met vrye wil geskape, dus ook met die mag om te sondig. In die Ou Testament lees ons dat die duiwel die mens aankla by God. Sien maar die boek Job. Die woord Satan beteken “teenstander” of “aanklaer” en dit is presies sy rol onder die ou bedeling. Omdat die mens gesondig het, het die Satan die reg gehad om in die hemel die mens by God aan te kla. Hierdie mag as “aanklaer” is weereens nie outonome mag nie, maar mag wat God hom toegelaat het.
3) Met Jesus se kruisdood is die Satan se mag as aanklaer oor die uitverkorenes verbreek.
Omdat Jesus die eise van die wet vir die uitverkorenes vervul het met sy kruisdood, het die Satan nie meer ‘n geldige klag teen die uitverkorenes nie. Hy het dus nie meer die reg, en dus die mag, om hulle voor God aan te kla nie. In Openbaring word daar dus ‘n direkte verband getrek tussen die opstanding en hemelvaart van Jesus en die uitwerp van die Satan uit die hemel.
Kollosessense 2:14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
Openbaring 12:1Toe het daar ‘n groot teken in die hemel verskyn: daar was ‘n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ‘n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar.
3Daar het ook ‘n ander teken in die hemel verskyn: daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. 4Sy stert het ‘n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om ‘n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring.
5Sy het ‘n kind in die wêreld gebring, ‘n seun, bestem om al die nasies met ‘n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe, 6en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar ‘n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.
7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer,8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.
10Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het:
“Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.
11Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het;en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.
4) Die Satan is na sy nederlaag op die aarde gegooi:
Openbaring 12:12 Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.”
5) Die Satan het dus steeds mag oor dié wat verlore gaan, bloot omdat God hom dit in sy raadsplan toelaat.
Die feit dat Christus alle mag gegee is beteken dus nie dat Hy daardie mag nou al gebruik om die Satan nou reeds te verwyder nie. Onthou die Satan het nooit mag gehad wat God hom nie gegee of toegelaat het nie, en dit is steeds so.
Jou redenasie dat die Satan nie mag het nie omdat Christus alle mag het, is dus vals, omdat dit nie in ag neem dat die Satan se mag onderhewig is aan die feit dat Christus hom daardie mag toelaat nie! Dit is soos ‘n koning wat ‘n goewerneur toe laat om mag uit te oefen in ‘n provinsie. Die koning is soewerein oor die goewerneur, en kan daarom die goewerneur enige oomblik van sy mag stroop!
Die Bybel leer eenvoudig nie dat Christus reeds die duiwel vernietig het nie. Dit leer dat Hy die duiwel oorwin het, verlsaan het, uit die hemel gewerp het en sy mag (spesifiek sy reg om die uitverkorenes aan te kla) gebreek het. Die Bybel is ook baie duidelik dat die duiwel eers na Jesus se wederkoms finaal in die hel gewerp gaan word.
B) Oor Christus se alomteenwoordigheid.
Melané, hier is dit baie belangrik dat ons alomteenwoordigheid definieer. Die Bybel se leer en dus dié van die Gereformeerde getuienis, is dat dit ruimtelike alomteenwoordigheid is. Die dwaalleraars beweer dat God ontologies alomteenwoordig is (panteïsme of panenteïsme). Ruimtelike alomteenwoordigheid kan verduidelik word met suiker wat opgelos is in water. As ek ‘n lepel suiker in ‘n glas water oplos is daar nie ‘n plek in die water waar die suiker nie ruimtelik teenwoordig is nie. Die water is egter nie die suiker nie en die suiker is nie die water nie. Die water en die suiker kan van mekaar geskei word deur ultrafiltrasie of verdamping.
Die woord “ontologie” beteken “die ondersoek van dit wat betrekking het op die wesensbestaan”. Ontologiese alomteenwoordigheid beteken dus dat God die wesensbestaan of die substans van die skepping is en dus oral in die skepping teenwoordig is. Die manier om dit voor te stel is om te sê dat God in die skepping is soos waterstof en suurstof in water is. Die H en O atome in die water is self die substans van die water. Hierdie idee van ontologiese eenheid tussen God en die skepping word op die sterkste moontlike wyse deur die Gereformeerde geloof verwerp, deur die belydenis dat God uit niks geskep het en dat Hy onveranderd is.
Indien God die substans van die skepping is, is dit wel onmoontlik vir die duiwel om te bestaan, en ook vir die hel om te bestaan. Indien God egter ruimtelik alomteenwoordig is (en nie ontologies nie) beteken dit dat God slegs daar is waar Hy kies om te wees. En die Bybel is baie duidelik: Daar is ‘n plek of toestand waar God totaal afwesig is.
2 Tessalonisense 1: 9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.
Hierdie vers wat duidelik leer dat daar ‘n plek of staat van totale afwesigheid van God is, is maar een absoluut onweerlegbare bewys teen die heidense leer van panenteïsme.
C) Oor die duiwel in ons koppe.
Melané, jy is natuurlik reg dat mense self verdorwe is, en dat die mensheid ‘n belangrike bron van boosheid is. Die Gereformeerde leer is baie duidelik dat ons drie vyande het: Die duiwel, ons eie gevalle menslike natuur, en ander mense (die wêreld). Die feit dat ons gevalle menslike natuur totaal verdorwe is beteken egter nie die duiwel bestaan nie! Hierdie is ‘n denkfout wat mens nie eers van kinders sal verwag nie!
Melané, ek dink mense het vir jou gelieg oor die basiese beginsels van die Christelike geloof en oor wat die Bybel regtig sê oor die duiwel.
Onthou:
Jesus het gesê die duiwel bestaan. Jy beweer die duiwel bestaan nie. Dus is Jesus volgens jou mal of ‘n leuenaar. As jy dus beweer dat jy in Jesus glo lieg jy vir jouself, vir God en jou gemeente. Niemand kan tog in ‘n mal leuenaar glo nie!
Jy is welkom om verder met my in gesprek hieroor te gaan. Maar begin maar eers by die artikel “Dwaalleer in die NG Kerk” wat van die voorblad van hierstaanek.com afgelaai kan word.