In die fliek “The Matrix” leef mense as biologiese batteryselle in massiewe energie installasies wat elektrisiteit aan die robotte wat die aarde oorgeneem het verskaf. Maar hulle weet dit nie. Wat hulle betref is hulle normale mense wat alledaagse lewens lei in Amerika in die 1980’s. Hulle realiteit is vals. Dit is ‘n rekenaar geskepte namaaksel van ‘n ander realiteit. Maar dit kon enigiets anders gewees het. Die robotte kon byvoorbeeld besluit het om die mense te laat glo hulle is in die hemel.

Om die waarheid te sê, die robotte het dit probeer maar dit het nie gewerk nie. “We lost whole crops of humans” lig die robot agent die held in. Die mensdom kan skynbaar nie sonder ‘n mate van lyding en depressie voortbestaan nie.

Daar is geen manier om aan die illusie te ontsnap nie, totdat jy die Rooi Pil drink. Maar dan sit jy weer met die probleem. Watter werklikheid is die werklike werklikheid? Is die patetiese bestaan van die mense wat teen die robotte veg nie maar net nog ‘n Matrix wat deur die robotte geskep is om die mensdom verder te verslaaf nie?

Aan die einde van die eerste fliek ontwikkel die protagonis Neo die vermoë om deur die skyn van die Matrix te dring. Hy sien die realiteit vir wat dit regtig is: ‘n konstruk van rekenaardata. In een van die ikoniese tonele in die fliek sien hy hoe die nulle en ene die digitale wereld om hom vorm en verander, en dan leer hy om self sy realiteit te verander.

Postmodernisme ontken die bestaan van absolute waarheid. Soos die werklikheid van die Matrix is alle werklikhede konstrukte. Nie noodwendig rekenaar konstrukte soos in The Matrix nie, maar sosiale konstrukte wat gevorm word in die sosiale, maatskaplike en kulturele interaksies van mense. Party postmoderniste sal wel die robotvyand uitwys wat die konstrukte skep om die mensdom verslaaf te hou: Kapitalisme. Godsdiens. Die Christendom. Rassisme.  Maar baie sal nie.

En omdat daar geen absolute waarheid is nie, is daar ook geen leuen nie. Net ‘n oneindige aantal relatiewe waarhede.

Jou waarheid is anders as my waarheid. Ons kan probeer deurdring na die werklike waarheid, soos Neo in the Matrix wat die nulle en ene begin sien, of ons kan soos die messias-Neo in die laaste toneel van die fliek ons eie werklikheid begin skep.

Maar ons kan nie ontsnap van die Matrix nie, omdat ons geen manier het om die werklikheid te toets nie.

Sonder absolute waarheid is daar geen sin of hoop nie. Die postmoderne mens se bestaan is nihilisties. Friedrich Nietzsche was die vader van Nihilisme – en een van die eerste postmoderne denkers. Vir hom was alles sinloos.

Wat moet ons, as Kerk van Christus, se reaksie op post modernisme wees?

Moet ons dit aangryp en deel maak van ons wêreldbeeld soos verskeie hedendaagse teoloë, ook in die NG Kerk bepleit?  Moet Christene inkoop in die postmoderne denkwyse om die postmoderne mens te bereik?

Maar ons weet  instinktief dat postmodernisme nie verenigbaar is met die Bybel nie.

Jesus het gesê, “Ek is die Weg, die Waarheid, en die Lewe…”

Dit is ‘n absolute stelling deur die absolute Skepper en  Heerser van die heelal.

Teenoor hierdie absolute eis van Jesus staan die leuen:

Joh.8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was vandie begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.

Vir die postmodernis is daar baie relatiewe waarhede en geen leuens nie.

Vir God is daar een Absolute Waarheid en baie leuens.

Postmoderne Christelike teologie is ‘n teenstrydigheid. Dit sal altyd eindig in een van twee situasies: Totale verlies aan geloof, of ‘n verskuiwing van geloof na oosterse mistisisme. (Panteïsme en panenteïsme)

Die mens se grootste behoefte is na sin in die lewe, en om te kan hoop. Jesus het gesê: “Ek is die lewende water, wie van My drink sal nooit weer dors hê nie. Ek is die brood van die lewe, wie My eet sal nooit weer honger word nie.”

Die  Kerk se antwoord vir die postmoderne wêreld moet wees om die wêreld voor te stel aan die Absolute Waarheid. Die Werklike Sin vandie Lewe, die enigste Bron van Hoop.

Wynand Louw


Liberalisme is die politieke arm van postmodernisme. Die video hieronder is versprei deur ‘n Amerikaanse politieke groep, en die spreker is nie ‘n Christen nie maar ‘n Jood. Dit gaan nie oor godsdiens nie maar politiek. Maar dit is ‘n insiggewende kykie in die postmoderne siel.