1. Die fokus is nie meer op ‘n ontmoeting met Christus as die gekruisigde nie maar op ‘n mistiese ervaring van god.
  2. Daar word nie meer oor sonde gepreek nie.
  3. Die wet van God is slegs riglyne, en is nie noodwendig bindend nie.
  4. Indien daar wel oor sonde gepreek word word dit minimaliseer, en die verwoestende, destruktiewe aard daarvan word verswyg.
  5. Omdat daar nie meer oor sonde gepreek word nie word God se verlossende genade nie meer eksplisiet verkondig nie.
  6. Dit word onaanvaarbaar om mense aan te spreek oor sonde. Daar word gesê dat jy nie die splinter uit ‘n ander se oog mag haal nie omdat jy self ‘n balk het. Jesus se woorde “Raak ontslae van die balk in jou eie oog sodat jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal” word verswyg. Die hele punt van die teks is Christus se opdrag dat ons ander moet help met hulle splinters, omdat ons die Een onmoet het wat ons van balke kan genees!.
  7. Die kerklike tug word nie meer toegepas nie.
  8. In plaas daarvan om God se ongelooflike heiligmakende genade te verkondig word mense gepaai as hulle besluit om in hulle sonde te volhard. Egskeiding word in praktyk aanvaarbaar “omdat God vergewe”(al word daar lippediens gegee dat dit sonde is). Mense word selfs aangemoedig om te skei wanneer hulle huwelike in sonde verval het.
  9. Homoseksuele praktyke word kondoneer of selfs aangemoedig.
  10. Daar word nie oor God se regverdige straf en die ewige hel gepreek nie.
  11. Die bestaan van demone word bevraagteken.
  12. Die bestaan van die hel word bevraagteken.
  13. Christus se genade word aangebied as oplossing vir ons eie onsekerhede, selfbeeld probleme en persoonlike mislukkings in plaas van as oplossing vir ons sonde. (Christus het beslis nie vir my swak selfbeeld gesterwe nie. Hy het vir my sonde gesterwe. Die herstel van my selfbeeld is slegs die sekondere vrug van my verlossing van sonde.)
  14. Psigoterapie word van die kansel verkondig onder die voorwendsel dat dit wetenskaplik is en dat “enige waarheid God se waarheid is”. Die waarheid is dat psigoterapie nie wetenskaplik is nie omdat dit nie aan die vereistes vir ‘n wetenskap – die wetenskaplike proses – voldoen nie.
  15. In plaas van heiligmaking moet ons psigoterapie ondergaan om beter mense te word. Psigoterapie ontneem mense van die verantwoordelikheid vir hulle sonde. Ons doen slegte dinge as gevolg van ons kindertrouma, of ons “reptielbrein”, nie omdat ons sondaars is nie.
  16. Persoonlike groei word ‘n “spirituele reis”, wat meer te doen het met mistiese ervarings en tegnieke om dit te bereik as met heiligmaking. Rituele en meditasie word aangemoedig.
  17. In die pastoraat vervang psigoterapeutiese beginsels en tegnieke God se evangelie van reddende en heiligmakende genade. Tydens berading staan Christus en sy Evangelie nie sentraal nie maar word vervang deur psigoterapie.
  18. Sending is nie meer die verkondiging van die evangelie aan die verloregaande wêreld nie maar word vervang met intergeloofsgesprek.
  19. Die gelowiges word aangemoedig om ander gelowe te respekteer en daarvan te leer.
  20. Universalisme word verkondig: Ander gelowe bevat waarheid wat ook tot verlossing mag lei.
  21. Basiese feite van die geloof word onder verdenking geplaas, bv die maagdelike geboorte, Christus se opstanding in die vlees ens.
  22. Die historisiteit van Christus se wonderwerke word onder verdenking geplaas.
  23. Die integriteit van die Bybel as die onfeilbare woord van God word onder verdenking geplaas.
  24. Twyfel word verhef tot iets goeds in plaas daarvan dat mense tot geloofsekerheid gelei word.
  25. Die bestaan van absolute waarheid word ontken, elke mens moet sy eie waarheid ontdek.
  26. Daar word klem gelê op “sosiale geregtigheid” (social justisce), “geslagsgeregtigheid” (gender justice) en “ekologiese geregtigheid.”
  27. God se trans-geslagskenmerke word beklemtoon, en daar word dikwels van god of die heilige gees in vroulike terme te praat.