SKRYWE AAN DIE MODERAMEN
VAN DIE ALGEMENE SINODE
BRIEF 1
Julie 2012
Geagte broer/suster
Ek is bevoorreg en begenadig om vir die afgelope 41 jaar ‘n predikant in die N.G.Kerk te wees. Soos u het ek die Here Jesus Christus en sy Kerk hartlik lief. Uit die gebeure die afgelope tyd oor die radio, in webtuistes en die openbare pers weet u reeds dat ek en baie ander lidmate diep bekommerd is oor sekere tendense in die kerk. Uitsprake van kerklike leiersfigure in die openbaar en besluite van die Algemene Sinode skep in die kerk groot onrustigheid en ongelukkigheid. Dit is belangrik dat u as lid van die ASM bewus daarvan sal wees dat daar talle groepe bekommerde lidmate van die kerk is. Individuele lidmate het die afgelope tyd vanoor die hele land aan my geskryf of geskakel om hulle ontevredenheid en besorgdheid oor die gebeure in die kerk en in hulle eie gemeentes uit te spreek. In die lig van die groot verlies aan lidmate moet hierdie gevoel van ongelukkigheid nie onderskat word nie. Die persepsie bestaan by baie beswaardes dat enige aanduiding van bekommernis of ontevredenheid as negatiwiteit of dwarstrekkery afgemaak word en dat hulle nie gehoor (wil) word nie. Beskuldigings van leuens, onwaarheid, verdagmakery en drukvorming word as verweer teen bekommerde standpunte uitgespreek.
Persoonlik word ek tans in beslag geneem deur die wye steun wat daar in die N.G.Kerk vir die Ontluikende Kerk is, tot so ‘n mate dat ‘n mens die indruk kry dat die N.G.Kerk onherroepelik op die pad van die Ontluikende Kerk geplaas is. Ek gryp hierdie indruk nie uit die lug nie. Verskeie persone het hierdie besorgdheid uitgespreek. Ooreenkomste tussen besluite van die Algemene Sinode en uitsprake van kerkleiers en die beginsels wat in en ten gunste van die Ontluikende Kerk uitgespreek word, is eenvoudig te groot om bloot toevallig te wees.
My boek (Jesus is die Een!) is geskryf om tot gesprek uit te nooi. Ek het die uitgewer versoek om eksemplare van die boek aan persone te stuur wat in die boek bespreek word, om hulle tot gesprek uit te nooi. Vir maande was daar geen reaksie van enige aard nie, totdat die bom gebars het. Wat ek in die boek geskryf het, het ek gedokumenteer met bewyse. Tot dusver het niemand op die opsigtelike teologiese probleem wat in die boek uitgewys en bespreek word en waarvan baie van die Skrif en ons belydenisskrifte afwyk, geantwoord nie. In plek daarvan word ek uitgevloek (ek is deur ‘n teoloog ‘n **shole genoem), van onwaarheid beskuldig en ‘n brief word selfs in Kerkbode gepubliseer waarin my geloof bevraagteken word omdat ek kritiese vrae oor die Ontluikende Kerk vra.
Boonop is daar voorstanders van die Ontluikende Kerk wat weier om my boek te lees en dan tog vrymoedigheid neem om allerlei kommentaar te lewer. Ek kry die indruk dat daar ‘n onwilligheid is om met feite oor die Ontluikende Kerk gekonfronteer te word.
Hoe rym dit met die beleid van diversiteit dat ons in gesprek met mekaar moet tree, ruimte moet maak vir mekaar en mekaar moet vashou? Hoe pas dit in by die N.G.Kerk se etos om besluite op grond van navorsing te neem? Dit het ‘n paar keer gebeur dat ek met persone in gesprek wou tree, van wie ek nie eens ‘n antwoord terug ontvang het nie. Blykbaar is ek volgens hierdie teoloë nie eers die moeite werd om te antwoord nie.
Is dit net ek wat hierdie “obsessie” oor die Ontluikende Kerk het? In Amerika is daar ‘n groot getal evangeliese teoloë en predikers wat die gevare van die Ontluikende Kerk uitwys. Onder hulle tel die invloedryke John McArthur en D. Carson, sowel as Roger Oakland en Bob Dewaay. Hulle boeke, artikels op die internet en YOU-tube videos is teologies en Bybels gefundeer en toeganklik vir almal wat graag van kritiek teen die Ontluikende Kerk in die buiteland wil kennis neem. Daarbenewens is daar ontstellende beeldmateriaal op You-tube oor leiers soos Tony Jones, Rob Bell en ander.
Een van die skokkendste videos wat ek onlangs gesien het, is waar Tony Jones (prominente leier in die Ontluikende Kerk) in ‘n preek die plaasvervangende lyding en sterwe en die regverdigmaking deur geloof in Jesus Christus belaglik voorstel en verwerp. In hierdie opsig kom sy standpunt presies ooreen met Brian McLaren, Rob Bell, Allan Jones en andere. Dit is indedaad ‘n tipiese standpunt onder Ontluikende skrywers. Tony Jones vereenselwig hom op sy eie blog met die filosofie van relativisme (Kyk: http://goo.gl/fb/IzayQ met die opskrif “In praise of relativism”) .
Onder die opskrif TONY JONES ARGUES FOR OPEN MARRIAGE AND POLYAMORY skryf Ken Silva op die blog van Appraising Ministries die volgende: “That noted, the philosophy of relativism does happen to be a perfect fit for fools like Dr. Tony Jones who wish to argue in favor of practices of sexual immorality. In Christianity 21 To Attack Christian Sexuality I brought to your attention a July 11th blog post by Jones where he quotes the homosexual writer Dan Savage, whom he calls ‘America’s premier sex advice columnist’. Jones lets us know that Savage opines “monogamy is right for many couples” but some people need more than one partner, [Savage] writes, just as some people need flirting, others need to be whipped, others need lovers of both sexes. (Online source: http://apprising.org/2011/08/10/tony-jones-argues-for-open-marriage-and-polyamory/). Dit is dieselfde Tony Jones wat by ondersteuners van die Ontluikende Kerk in Suid Afrika hoog aangeskryf word.
Wat is die doel van my skrywe? Waar staan ek in die N.G.Kerk? Dit is nie my styl om agteraf te praat of draaie om ‘n punt te loop nie. Die Kerk van Jesus Christus, die behoud van die evangelie en ons gereformeerde teologie en spiritualiteit is vir my te kosbaar. Daarom het ek in my boek en in die radiogesprekke reguit gepraat, waaroor ek natuurlik erg kwalik geneem is. Daarom vra ek nou of u my sal toelaat om van tyd tot tyd nuwe inligting oor die Ontluikende Kerk aan u as lede van die ASM te stuur. Ek beplan om in aanvulling tot my boek nuwe artikels te skryf, wat ek oortuig is nie in Kerkbode gepubliseer sal word nie. As u nie daarin belangstel nie, laat my asseblief weet. Ek respekteer u te veel om iets aan u op te dring wat u nie wil lees nie. Terloops, as u sou belangstel om die video van Tony Jones se preek te sien (sommige suggereer mos dat ek goed uit konteks ruk), tik gewoon die volgende op GOOGLE in: “TONY JONES PREACHES ‘A BETTER ATONEMENT’ AT BAYLOR UNIVERSITY CHAPEL” of gebruik die skakel: http://www.youtube.com/watch?v=9keeJVrtiSY
Ek groet u in die wonderlike Naam van Jesus Christus, die Koning van die Kerk, ook van die N.G.Kerk.
Johan Janse van Rensburg
Henrietta Klaasing said:
Groot waardering vir Prof Johan, dat hy standpunt inneem en vir jou Wynand, vir die plasing hiervan!
Jan Buter said:
Prof Johan, dis vir ons ‘n riem onder die hart om te weet dat u die kern van die evangelie so sterk beklemtoon en verdedig. Daar IS net EEN verlosser naamlik Christus. Gaan voort en weet dat daar baie ondersteuning en waardering is (ook hartseer dat dit nodig is).
koos lessing said:
Dankie, Prof! As ons, die sout, nie meer sout is nie, sal Jesus Hom vir ons moet skaam. Radikaal uitstaan vir Sy Naam is ons enigste opsie!
Attie Louw said:
Wynand
Een van die aansprake van die ontluikende kerk beweging is volle inklusiwiteit tov almal en hulle idees. Daar moet ruimte wees vir almal in die omarming van diversiteit. Die Kerkbode het selfs (ek weet nie of dit nog so is nie) ‘n sg. “Diversiteitsforum” onderleiding van Charles Malan gehad.
Jesus het gesê “‘n boom word aan sy vrugte geken”. Dit is in hierdie geval ook waar. Die uitsluiting van en ad hominem aanvalle op konserwatiewe gelowiges staan soos ‘n seer oog uit. Die sosiale media van die Kerkbode is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Die humanisme (soos alle vorme agnostisisme en ateïsme) het een kenmerk: dit kan nie sy idees konsekwent toepas nie. As ontkennend van en blind vir die skeppingsorde van God loop dit ditself altyd vas teen die einste skeppingsorde. Dit is hier ook die geval.
Daar is van die begin van tye na die sondeval ‘n antitese tussen die slang en die nasate van die vrou, tussen die lig en die duisternis, tussen die gelowige en die ongelowige en tussen die Kerk en die wêreld. Die ontluikende kerk beweging val ongetwyfeld aan die kant van die wêreld. Soos Julian Muller dit iewers in sy boek Om te mag twyfel stel dat hy meer in gemeen het met ‘n denkende ongelowige as met ‘n gelowige wat glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is.
Of die ontluikende kerk beweging dit ontken of nie, hulle loop hulself vas teen die antitese. Hierdie antitese is soos Newton se wette in die skeppingsorde vasgelê. Al wat ons kan doen is om dit te erken en daarvolgens te lewe. Doen ons dit nie, raak dit ‘n onoorkomlike struikelblok op weg en gooi dit ons mooi uitgewerkte skematjies omvêr. Soos die idee van ‘n allesomvattende inklusiwiteit in die kerk.
hierstaanek said:
Attie, jy is heeltemal reg. Jesus het gesê dei wêreld sal ons haat.
Die Emergent kerk vry al te hard na die wêreld vir hulle goedkeuring!
proregno said:
Broers, baie sterkte vir julle goeie stryd teen die emergent teologie en alles wat daarmee saamgaan.
Terwyl julle en ons almal besig is met reformasie, kom ons reformeer ook al die roomse elemente uit ons kerke, soos al die Jesus prentjies in ons kerke, en (baie) ongelukkig ook op prof. Janse van Rensburg se boek se voorblad, wat in stryd is met die tweede gebod soos ons dit bely in HK Sondag 35 wat handel oor die tweede gebod.
Ai, dit is jammer dat ‘n goeie saak so deur sulke roomse prente skade lei. Is daar dalk ‘n uitgawe wat ek kan aankoop sonder daardie voorblad !
Sterkte broeders, in Christus wat deur die prediking van die lewende Woord van God voor ons ‘afgeskilder’ moet word, en nie deur prentjies wat van Hom geteken word nie:
Gal.3:1-2 “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Dit is tog ook wat ons bely broeders:
HK, Sondag 35
Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).
(a) Isa 40:18-19, Isa 40:25; Deu 4:15-16; Rom 1:23; Act 17:29.
(b) 1Sa 15:23; Deu 12:30; Mat 15:9.
Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).
(a) Isa 40:25.
(b) Exo 34:17; Exo 23:24; Exo 34:13; Num 33:52.
Vraag 98: Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).
(a) Jer 10:8; Heb 2:18.
(b) Rom 10:14-15, Rom 10:17; 2Pe 1:19; 2Ti 3:16-17.
hierstaanek said:
Hi Slabbert
Daar is 2 moontlike interpretasies van die verbod op die uitbeelding van God:
Die eerste is dat God die Vader en Skepper nie uitgebeeld mag word nie, en dat dit nie uitbeeldings van Jesus as mens insluit nie. Die tweede is dat dit uitbeeldings van Jesus insluit.
Die rasionalisasie vir die eerste is dat Jesus se menslike liggaam deel van die skepping is. (Anders was Jesus nie waarlik mens nie) ‘n Afbeelding van Jesus se menslike liggaam is dus ‘n afbeelding van ‘n deel van die skepping.
Afbeeldings van van Jesus as mens voldoen dus aan die vereistes van HK 97, OP VOORWAARDE dat dié afbeeldings nie vereer of aanbid word nie.
Hierdie voorwaarde geld natuurlik vir enige afbeelding van die skepping!
Paapse krusifikse en beelde word vereer en aanbid, en is dus afgodediens. Die selfde geld vir die nagmaalkoekie.
Ek het egter respek vir jou opinie!
Groete
Wynand