Die oorspronklike artikel van Neels Jackson is hier.
Reg, miskien is ek te geestelik en emosioneel onvolwasse om die artikel reg te verstaan. Korrigeer my asseblief as ek verkeerd is, maar dit is hoe ek Neels Jackson se opsomming van Ds Johan Conradie se uitsprake in Afrikaans vertaal:
1) Ds. Johan Conradie van die luisterspan het egter gesê die verskille tussen ’n fundamentalistiese of letterlike verstaan van die Bybel aan die een kant en ’n siening wat die Bybel en wetenskap integreer…
Afrikaanse vertaling: Mense wat die Bybel volgens die belydenisskrifte interpreteer is plat aarde fanatici wat glo daar is drake net voor jy van die aarde afval. Mense wat die Bybel nie meer as die Woord van God aanvaar nie is wetenskaplik en intelligent…
My vraag: As jy die Bybel met die wetenskap integreer, wat word van Sola Scriptura? Die wetenskap is tog die produk van die menslike ervaring en rede. Word dit nou verhef tot op dieselfde vlak as God se openbaring? Ek vra maar net.
2) Oor die verskillende sienings van die bose het hy bygevoeg dat dit ’n kwade dag sal wees as ’n dominee van dwaalleer aangekla word omdat hy nie aan die duiwel glo nie.
As ‘n dominie nie in die duiwel glo nie verwerp hy omtrent ses artikels van Heidelbergse Katigismus en twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat duidelik stel dat duiwels geskape wesens is met eie gestalte en voorkoms. Ds Conradie, staan daar nie in jou dienskontrak met jou gemeente dat jy glo die belydenisskrifte stem oor een met die Woord van God nie? Pleeg jy dalk bedrog?
3) Van die redes waarom lidmate verontrus raak oor die kwessies is die inligtingsontploffing waaroor die kerk geen beheer het nie. Die Google-generasie bevraagteken alles, ook die kerk. Die kerk moet maar net daaraan gewoond raak, het hy gesê.
Ingeligde mense kan nie meer die Bybel glo nie, reg?
4) Hy het ook daarna verwys dat lidmate geestelik en soms emosioneel onvolwasse is.
Hmm. Beledig die mense wat jou salaris betaal. Goeie plan.
5) Daar moet ook liewer oor die praktiese uitlewing van Christenskap gepraat word as om te stry oor wat die kerk vir mense leer.
Ds Conradie, nou is ek verward. Jesus het gesê dwaalleraars is wolwe in skaapsklere wat die kudde verskeur. Hy het ons beveel om die kudde te beskerm. As ek dus my Christenskap prakties uitleef, moet ek teen dwaalleer veg en met dwalers stry oor leerstellings of moet ek my hare laat groei en Kumbaya sing?
Hierstaanek se gevolgtrekking: As ek in hierdie Ds se gemeente was het ek hom vanaand nog gebel en hom goed uitgetrap…
Maar nou ja, wat weet ‘n ou nou wat glo die aarde is plat en staan op olifante, all the way down…
Sienings van Bybel kwel talle
2012-04-19 22:02
Neels Jackson
Die onderliggende saak by al die kwessies waaroor daar onrus by NG lidmate bestaan, is verskillende sienings van die Bybel.
Só het die luisterspan van die kerk se Hoëveldsinode terugrapporteer nadat hulle terugvoering van sinodegangers oor dié vraag ontleed het.
Die onrus by sommige lidmate was ’n groot besprekingspunt by die sinode wat by tye tot onverkwiklike debatte met persoonlike beskuldigings gelei het.
Die luisterspan het ’n rits kwessies opgenoem waaroor lidmate onrustig is.
Dit wissel van die opstanding van Jesus en die maagdelike geboorte tot by kwessies soos die doop, saamwoon, sienings van die bose, die Belydenis van Belhar, homoseksualiteit, die sondeval en kerkhereniging.
Ds. Johan Conradie van die luisterspan het egter gesê die verskille tussen ’n fundamentalistiese of letterlike verstaan van die Bybel aan die een kant en ’n siening wat die Bybel en wetenskap integreer aan die ander kant, loop deur al dié kwessies.
Oor die verskillende sienings van die bose het hy bygevoeg dat dit ’n kwade dag sal wees as ’n dominee van dwaalleer aangekla word omdat hy nie aan die duiwel glo nie.
Van die redes waarom lidmate verontrus raak oor die kwessies is die inligtingsontploffing waaroor die kerk geen beheer het nie. Die Google-generasie bevraagteken alles, ook die kerk. Die kerk moet maar net daaraan gewoond raak, het hy gesê.
Hy het ook daarna verwys dat lidmate geestelik en soms emosioneel onvolwasse is.
Soms soek lidmate kitsantwoorde wat nie daar is nie.
Verder lees baie lidmate net “sagteband-teologie”.
Hulle verwag dat die kerk eenvoudige swart-en-wit-uitsprake moet maak, terwyl die kerk dit nie meer doen nie. Daar is ook verwys na ’n skynbare verdraagsaamheid teenoor dwaalleer in die NG Kerk.
Die luisterspan het aan die sinode gesê verantwoordelike gesprek waarin mense na mekaar luister, het dringend aandag nodig.
Daar moet ook liewer oor die praktiese uitlewing van Christenskap gepraat word as om te stry oor wat die kerk vir mense leer.
Conradie het die jeug as voorbeeld aan die sinode voorgehou. Hulle streef daarna om Jesus Christus in hul optrede sigbaar te maak, het hy gesê.
Louis Scheepers said:
Wat Neels Jackson nie skryf nie, is dat die Luisterspan onverskoning gevra het vir my, aangesien Johan Conradie sy spreekbeurt misbruik het om ons ouens wat die dwaalleer-saak ernstig opneem, sleg te sê!
Ons lees in die koerant ‘n eensydige siening van hierdie sake!
Die feit bly staan, dat daar dwaalleer is, en die Sinode moet die mense wat daaroor kla nou aanhoor!
Louis Scheepers said:
O ja, en as dominees wat die bestaan van die duiwel ontken, nie van dwaalleer aangekla word nie, moet hul ouderlinge herinner word dat hulle moet toesig hou oor die predikante se leer en lewe, en dat dit wel dwalleer is wat in stryd is met die Bybel en belydenisskrifte.
My voorstel sal wees dat alle kerkrade wie se dominees die bestaan van die duiwel ontken, onmiddelik sake van dwalleer teen hulle open!
Fanie Scheepers said:
Dit is eintlik hartseer dat Johan Conradie as verteenwoordiger van die Luisterspan, wat veronderstel is om die oënskynlike luistertyd van die NG Kerk te hanteer, die teksvers in 1 Kor.6:9-10 in sy afsluitingsbetoog gebruik het, waar die woord “kwaadpraters” op die skerm in die Sinode se vergadersaal, onderstreep was. Verwys dit nou na mense wat ernstig bekommerd is oor die valse beweging in die kerk?
hierstaanek said:
Louis, ek wil net hier in die openbaar sê, wat jy op die sinode gedoen het was eerbaar, ongelooflik dapper en reg. Ons is almal uiters trots op jou!
Die Here sal jou seën.
Daar is baie mense wat vir jou bid!
hierstaanek said:
Dankie vir hierdie interessante brokkie, Fanie!
Attie said:
Dit is interessant dat ‘n “luisterspan” aangestel is aangaande die “onrus by NG lidmate”, met die gevolgtrekking dat die onderliggende oorsaak van die onrus “verskillende sienings van die Bybel” is. So ‘n “luisterspan” is van meet af deel van die probleem en is geensins in staat om enigsins ‘n bydrae te lewer nie. Daar is geen probleem van “onrus” nie. Daar is wel ‘n probleem van ongereddes en ongelowiges wat afvallig is van die fundamentele waarhede van die Christelike geloof en wat hulle in die boesem van die kerk tuisgemaak het.
Vir hierdie mense is die ware geloof en Boodskap ‘n bespotting en ‘n bedreiging. ‘n Mens kan enige standpunt huldig, behalwe die fundamentele Waarheid. ‘n Mens kan enigiets wees, behalwe ‘n fundamentalis. Wel, Jesus was (en is steeds) ‘n swart en wit fundamentalis in murg en been. Dit loop soos ‘n goue draad deur Sy lewe en prediking. Die Bybel is in wese ‘n fundamententalistiese swart en wit dokument. Dit het ‘n eie interne letterlike interpretasie van ditself. Dit stel ditself as die draer van die hoogste Waarheid. Die Kerk is in wese swart en wit fundamentalisties. Dit het ‘n 2000 jaar tradisie van swart en wit antwoorde vanuit die een swart en wit Boek. Enige ander manier om hierdie fundamentalistiese swart en wit waarheid anders te interpreteer is blote sofisme.
Die enigste manier om die “onrus” te hanteer is om die ongereddes en ongelowiges te evangeliseer. Enige een wat dwaalleer verkondig moet onder sensuur en liefdevolle tug geplaas word. Indien so ‘n persoon hom verset is daar nie vir hom plek in die Kerk nie. Die kerk het nie “luisterspanne” nodig nie, maar evangelisasie.
Dit is God wat Sy Kerk laat groei en dit is God wat kerke sluit. Turkeie en Sirië was eens die die hoofsentrum van die Christendom. Waar is die Kerk vandag in hierdie lande? Laat dit vir ons ‘n les wees!
Anna said:
Attie & Louis jul slaan die spyker op die kop! Bekering moet gepreek word & teologiese opleiding verdien aandag.
En dan berig Neels Jackson nie objektief nie juis in ‘n tyd wat die pers hoog opgee oor persvryheid, is hul besig om die gewone burger se reg tot vryheid van spraak te sensureer. Verbeel jou !
Danksy die sosiale netwerk is die lede van die pers besig om hulself in die voet skiet en gaan dit jul niks help op die lange duur nie. Hoop jul redakteurs skrik wakker.
Dankie Louis dat jy die prentjie vir ons volledig gee ivm die Luisterspan se verskoning aan jou.
Ek, wie se bedanking as lidmaat op die ys geplaas is, is baie bly om te sien daar kom van ons predikante na vore wat vreesloos standpunt inneem.
Ja, Louis ons dank die Here vir jou dapper optrede. Staan nederig vas voor Hom..
Ai, die Skrifgeleerdes darem wat so arrogant is! Baie dankie dat jul die waarheid van die Bybel bevestig – dis baie duidelik & akkuraat daar beskryf.
Francois Gouws said:
Ja, dit is regtig jammer dat ds. Johan Conradie so eensydig namens die luisterspan geluister het. As hy mooi geluister het, sou hy gehoor het dat die oorgrote meerderheid van afgevaardigdes by die Hoëveld Sinode d.m.v. groen kaarte gesê het dat die Sinode kennis neem dat uitsprake in die Media deur Teoloë van die NG Kerk lidmate verwar en selfs laat twyfel oor geloofswaarhede. Die sinode het gevra dat hierdie saak daadwerklik aangespreek moet word deur kerkrade, die SDK asook die Algemene Sinode. Wil hy nou eintlik sê dat die oorgrote meerderheid afgevaardigdes na die Hoëveld Sinode ook geestelik en emosioneel onvolwasse is omdat ons die Bybel letterlik verstaan?
Francois Gouws
NG Gemeente Springs-Oos
hierstaanek said:
Francois, dankie.
As al die “geestelik en emosioneel onvolwassenes” opstaan en rekenskap van hulleself gee soos op Hoëveld Sinode gebeur het, sal die NGK sommer gou terug op die regte pad wees!