BESWAARSKRIF TEEN ‘N BESLUIT VAN DIE ALGEMENE SINODE VAN 2011 AANGAANDE DIE BEDIENING VAN BEVRYDING.

Aanbeveling aan die Sinodale Dienskommissie van Hoëveld Sinode:
Die Sinodale Dienskommissie van die Hoëveld Sinode aanvaar die beswaarskrif en beskrywingspunt hieronder en stuur dit ooreenkomstig KO Art 23b 5.31 deur na die skriba van die Algemene Sinode.

===================================

Beskrywingspunt en beswaarskrif teen Besluit 7 van die Algemene Sinode van 2011 oor die Bediening van Bevryding.

Aanbeveling: Die Algemene Sinode besluit om die volgende paragraaf (punt 7) in sy besluite oor die Bediening van Bevryding te skrap:
“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer”.

Gronde vir die beswaar

1. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met die Bybel.

Die Sinode wil ruimte maak vir mense in die kerk wat oor die werklike en persoonlike aard van die duiwel ander standpunte huldig. Die woord “werklik” impliseer dat daar ruimte gemaak word vir mense wat glo dat die duiwel en demone nie “werklik” bestaan nie. Uit die woorde “persoonlike aard”, moet die afleiding gemaak word dat die Sinode ruimte maak vir mense wat nie glo dat die duiwel en bose geeste persoonlike wesens is nie.

Die gedagte dat die duiwel nie werklik bestaan nie en ook nie ‘n persoonlike wese is nie, is pertinent in stryd met die duidelike en deurlopende getuienisse in die Bybel. Die Evangeliste berig dat Jesus met die duiwel in gesprek was in die woestyn en dat die duiwel Hom daar versoek het. Jesus praat self verskeie kere direk met die duiwel en met bose geeste. Mens wil nie eens die lasterlike gedagte te berde bring dat Jesus met sy “innerlike boosheid” in gesprek sou wees nie. Vir die apostels was die duiwel en bose geeste sonder twyfel ook werklike persoonlike wesens wat ons grootste vyand is, en met wie ons deeglik rekening moet hou. As Paulus in bv Rom 8:38; 1 Kor 15:24; Ef 1:21; Ef 3:10; Kol 2:10,15, herhaaldelik terme soos “mag”, “krag” en “gesag” gebruik, bedoel hy sekerlik dieselfde demoniese kragte, waarmee hy te doene gehad het in Hand 16:16-18 (waarsêersgees) en Hand 19:11-16 (bose geeste). Petrus (2 Pet 2:4) en Judas (vers 6 en 9) is albei baie duidelik in hulle verstaan van die duiwels as werklike persoonlike wesens in die geesteswêreld. Johannes praat in Openbaring 20:2 van “die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is”. Dit is duidelik dat Johannes in die metafore wat hy vir die bose gebruik, die karakter van ‘n persoon of persone aandui.
Die Bybelskrywers het die duiwels waarvan hulle geskryf het, dus onteenseglik as persoonlike wesens beskou. Die skrywers van die verslag aan die Algemene Sinode het in gebreke gebly om te wys hoe die betrokke Skrifgedeeltes hermeneuties anders verklaar kan word as die ooglopende en algemeen erkende verstaan van die Bybel.

2. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met ons belydenisskrifte

In Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons baie duidelik as volg oor die werklike bestaan en ook die persoonlike aard van die duiwels en bose geeste: “Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval,… Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk—ook op elke lidmaat—om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie”.
Sien ook: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikels 12; 13; 14; 34; 37; Heidelbergse Kategismus vrae: 1,9,31,34,112,123,127 en Dordtse Leerreëls Hoofstukke 1.7; 3.1; 4.7; 5.3; 5.4 en 5.15.

3. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met die eeue oue gereformeerde uitleg van die Skrif.

In Johannes Calvyn se bekende “Institusie van die Christelike Godsdiens” vind ons ‘n goeie samevatting van wat die gereformeerde kerke deur die eeue oor die Satan, duiwels en bose geeste geglo en bely het. Die paragraaf hieronder gaan spesifiek oor die verwerping van die dwalinge wat die werklike en persoonlike aard van die Satan en duiwels ontken. (Soortgelyke bewyse sou uit vele ander standaard gereformeerde werke aangehaal kon word).
“Die opvatting dat die duiwels bose gevoelens of emosies is, het geen Skriftuurlike gronde nie
Maar soos ons vroeër126 die sinlose filosofie in verband met die heilige engele weerlê het omdat die leer dat die engele niks anders as ingewings of goeie vermanings is wat God in die verstand van die mens verwek nie, en so moet ons die mense nou weerlê wat die onsin kwytraak dat duiwels niks anders as bose gevoelens of emosies, wat deur ons eie vlees in ons teweeggebring word, is nie.127 Dit kan ons egter baie bondig doen, omdat daar baie en genoegsaam duidelike getuienis (OC 131) hieroor in die Skrif bestaan.
In die eerste plek, wanneer hulle onrein geeste en afvallige engele genoem word wat van hulle oorsprong af ontaard het,128 dan druk hierdie woord al genoegsaam uit dat hulle nie gemoedsteurnisse of emosies is nie maar dat hulle in werklikheid eerder, soos gesê word, verstande of geeste is wat met gevoel en intelligensie bedeel is.
Net so is dit wanneer die kinders van God deur Christus sowel as Johannes met die kinders van die duiwel vergelyk word.129 Sou dit dan nie ’n sinnelose vergelyking gewees het as die woord duiwel niks anders as bose ingewings sou aandui nie? Johannes voeg selfs nog ietwat duideliker daaraan toe dat die duiwel van die begin af sondig.130
Net so is dit wanneer Judas die aartsengel Migael in sy stryd met die duiwel voorstel.131 Hy stel ’n bose afvallige engel teenoor ’n goeie engel. Dit (OS 170) wat ons in die geskiedenis van Job lees, stem ook hiermee ooreen, naamlik dat die Satan saam met die heilige engele voor die aangesig van God verskyn het.132 Die duidelikste van al die verwysings is egter dié wat melding maak van die straf wat hulle deur die oordeel van God begin ervaar en wat hulle in besonder in die opstanding sal ervaar: “Seun van Dawid, waarom het U gekom om ons voor die tyd te pynig?”133 En net so: “Gaan weg van my, julle vervloektes, in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is.”134 Verder: “As Hy sy eie engele nie gespaar het nie maar hulle in kettings geboei en in die duisternis gewerp het om hulle vir die ewige verdoemenis te bewaar”, ensovoorts.135
Hoe dwaas sou die uitsprake dan nie wees dat die duiwels vir die ewige oordeel bestem is, dat ’n vuur vir hulle berei is en dat hulle nou alreeds deur die heerlikheid van Christus gefolter en gepynig word, as daar dan glad geen duiwels was nie? Maar omdat die onderwerp geen bespreking nodig het onder die mense wat in die Woord van die Here glo nie, en omdat die getuienis van die Skrif weinig voordeel inhou onder mense wat ydel daaroor spekuleer omdat niks anders as nuwighede hulle vermaak nie, lyk dit tog vir my asof ek gedoen het wat ek wou, naamlik om godvrugtige verstande teen sulke waansinnighede waarmee onrustige mense hulleself en ook sommige eenvoudiges versteur, toe te rus. Dit was ook die moeite werd om hierdie onderwerp aan te roer om te verhoed dat mense wat in hierdie dwaling verstrik is, traer en onverskilliger word om teen hom weerstand te bied wanneer hulle dink dat hulle geen vyande in hom het nie”.

4. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met die Sinode se eie besluite

Sien bv: besluit 1 in dieselfde verslag: “Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld. En ook Besluit 4, waar daar staan dat: die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig”. Kan hierdie woorde hoegenaamd ernstig opgeneem word, as die Sinode net daarna ruimte maak vir mense wat die saak anders sien?

5. Hierdie besluit van die Algemene Sinode minag ons lidmaatbelofte en ander formuliere

Die Sinode minag met hierdie besluit die belydenis, wat ons herhaaldelik van lidmate verwag om af te lê: “Glo jy dat die leer, soos in die Ou en Nuwe Testament en in die belydenisskrifte van ons kerk vervat is, en in die gemeente hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?” Dit gebeur by belydenis van geloof en die doop. By bevestiging van leraars, proponente, kerkraadslede en gemeenteleiers, kom ook nog die woorde voor: Verwerp jy alle leringe wat daarmee in stryd is? Die besluit druis ook in teen die plegtige legitimasie-verklaring van leraars waar van leraars verwag word om te onderneem: “dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die kerk te weer”.

6. Hierdie besluit van die Algemene Sinode skep ruimte vir ernstige dwaalleer

Die Sinode het met sy besluit om ruimte te maak vir ‘n siening dat die duiwel nie werklik en persoonlik is nie, die deur oopgemaak vir ‘n dwaalleer in die kerk. Dit is nie ‘n ligtelike saak nie. Leraars wat die Bybel op eiesinnige wyse interpreteer kry met hierdie besluit kerklike sanksie om verkeerde leringe in die prediking te verkondig. Die bestaan van die duiwel as die teenstander van God en mens, het groot implikasies vir die Christen se uitkyk op die lewe. Dit raak ons persoonlike geloofslewe. Dit raak ons verstaan van die kerk se stryd in die wêreld ( Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie – Ef 6:12).
Moet ons aflei dat die Sinode hiermee ook ruimte maak vir mense met ‘n Oosterse Yin-Yang beskouïng? Volgens hierdie beskouing is donker en lig twee onpersoonlike kragte wat altyd teenoor en naas mekaar bestaan. As die duiwel nie ‘n “persoonlike aard” het nie, is hy nie meer “iemand” nie, maar “iets”. Ons vra nie meer na “wie” nie, maar na “wat”. As die kerk sy vyand nie meer ken nie, het ons die stryd van die begin af verloor.

7. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is kerkregtelik en juridies ongeldig

Die Sinode het juridies en kerkregtelik nie die bevoegdheid om sonder ‘n tweederde meerderheid plus tweederde instemming van alle kerkrade en streeksinodes, besluite te neem wat in stryd is met sy eie belydenis nie (KO art 44.1). Hierdie besluit is dus ultra vires en daarom kerkregtelik en juridies ongeldig.

Indieners van die Beswaarskrif:
Ds JD Louw (Secunda)
Ds T Danzfuss (Witfield)